Twee sterf tydens skietery by winkel

Argieffoto

Twee mans is Woensdagmiddag doodgeskiet en nog ʼn persoon ernstig beseer tydens ʼn skietvoorval by ʼn winkel in die Strand in die Wes-Kaap.

Sinathi Joni, woordvoerder van die polisie, het gesê die skietvoorval het omstreeks 12:00 by ʼn groente- en vrugtewinkel plaasgevind. “Twee mans, onderskeidelik 24 en 50 jaar oud, is doodgeskiet terwyl ʼn 55-jarige man gewond is.”

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê met hul aankoms het drie mans op die vloer in die winkel gelê. “Al drie is verskeie kere geskiet. Een van die mans het reeds aan sy beserings beswyk en hy is op die toneel dood verklaar.”

Volgens Meiring is die twee ander mans ondersoek en was albei in ʼn kritieke toestand. Paramedici het onmiddellik noodbehandeling begin toepas. “Nog een van die mans is egter kort hierna dood.”

Die ander man is na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas vir verdere mediese sorg. Joni het gesê die polisie ondersoek sake van moord en poging tot moord. Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Irene ·

Dit is erg Die Strand was altyd so a lekker plek om te gaan Beter om by jou huis te bly Dinge word elke dag erger Almal loop met skietgoed rond

Tina ·

ja, elke Jan Rap het deesdae `n skiet ding. Jy gaan onskuldig in dorp toe met jou gesin of saam vriende en bly in die slag met die wat net skiet wat voorkom. Geen plesier om winkels toe te gaan nie. Ek probeer hard om nie dorp toe te gaan nie, is glad nie lief om winkels toe te gaan nie, maar wat van my mense wat wel gaan? So vrees mens elke dag vir jou lewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.