Twee sterf tydens Visrivier-kanomarathon

Visrivier-kanomarathon (Foto: Bruce Viaene/ www.bvphoto.co.za)

Die organiseerders van die Visrivier-kanomarathon in die Oos-Kaap het bevestig twee deelnemers is Vrydag oorlede tydens die eerste been van die wedvaart.

“Axel Marggraf (53) van Pretoria is dood toe hy uit sy K3-kano in die Soutpansdrift-stroomversnelling geval het,” het Roy Copeman, voorsitter van die Visrivier-kanomarathon, in ʼn verklaring gese. “Dean Chiazzari (31) van Amanzimtoti is dood ná hy vermoedelik ʼn hartaanval gehad het nadat hy uit die wedvaart onttrek het.”

Copeman het sy meegevoel betuig met die familie en vriende van die twee roeiers en gesê die hele roeigemeenskap is geskok oor dié dubbele tragedie. “Woorde is nie genoeg om die pyn te beskryf wat ons ervaar nie.”

Hy het die wedvaart se redding- en veiligheidspersoneel geloof dat hulle in albei voorvalle so vinnig reageer het. “Ons veiligheidspanne en duikers, tesame met ʼn groep vrywilligers op die toneel het alles in hul vermoë gedoen, selfs hul eie lewens in gevaar gestel, om die vermiste Marggraf op te spoor en te bereik.”

Die reaksie was vinnig en doeltreffend, maar ongelukkig kon hulle nie Marggraf se lewe red nie.

Chiazzari het vroeër uit die wedvaart onttrek en was op pad na Cradock toe hy vermoedelik ʼn hartaanval gehad het. “Ons het vaardige personeel byderhand gehad, maar hulle kon hom ongelukkig nie bybring nie.”

ʼn Volledige ondersoek na albei tragedies is van stapel gestuur. Die organiseerders van die wedvaart kan nie enige verdere kommentaar lewer totdat die ondersoek afgehandel is nie.

Die Visrivier-kanomarathon is ʼn twee dag lange wedvaart oor 81,8 km. Die wedvaart het Vrydagoggend om 07:00 by Grassridgedam begin en 45,8 km later by Knutsfordbrug geëindig. Saterdagoggend se vaart strek oor 36 km en eindig by die sportgrond in Cradock.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.