Twee sterf, vier beseer in geweld by myn

Die Beatrix-myn naby Welkom in die Vrystaat. Foto: Timothy Bernard/ANA

ʼn Lid van die National Union of Mineworkers (NUM) is Woensdagaand doodgeskiet terwyl vier ander NUM-lede ernstig gewond is by Sibanye-Stillwater se Beatrix-myn in Welkom in die Vrystaat.

Die skietvoorval het gebeur terwyl die slagoffers in ʼn bus was op pad werk toe.

Xolisa Nqwiliso, NUM se taksekretaris by Beatrix, het in ʼn verklaring gesê die vakbond se lede is “lukraak aangeval na bewering deur lede geaffilieer by die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu)”.

“Ons kamerade is lukraak aangeval vir geen ooglopende rede nie. Die aanvallers het begin deur die veiligheidshekke toe te maak en klippe na die bus te gooi wat werkers na die werk vervoer het. Een van ons lede is doodgeskiet, terwyl ander ernstige beserings opgedoen het,” het Nqwiliso gesê.

Die skietvoorval het gebeur te midde van ʼn staking deur Amcu-lede by Sibanye-Stillwater.

Die mynmaatskappy het Donderdag die voorval veroordeel en gesê alle nagskofte by sy goudmynbedrywighede is opgeskort terwyl die staking aan die gang is.

James Wellsted, woordvoerder van Sibanye-Stillwater, sê die staking het gepaardgegaan met aansienlike vlakke van geweld en intimidasie. “Dit is uiters kommerwekkend dat een werknemer vermoor is en verskeie ander ernstige beseer is in die loop van die nag,” het hy gesê.

“Sibanye-Stillwater veroordeel die geweld en moedig vakbonde en werknemers aan om op vreedsame wyse te staak en die regte van ander te respekteer. Voorvalle van intimidasie en geweld wat aangemeld is, sal ondersoek word en die werknemers wat hierby betrokke is, sal onderwerp word interne dissiplinêre maatreëls in ooreenstemming met die maatskappy se beleid.”

Hy het gesê bedrywighede sal wel gedurende die dagskof voortgaan, “daar waar genoeg werknemers vir werk aanmeld”.

Amcu het om middernag met ʼn staking begin by al Sibanye se mynbedrywighede in Suid-Afrika. Daar word intussen berig dat ʼn Amcu-lid by Sibanye-Stillwater se Kloofmyn dood is nadat hy glo geskiet en met ʼn skerp voorwerp gesteek is. Amcu eis ʼn minimumloonverhoging na R12 500.

Sibanye het tans 32 200 mense by sy goudmynbedrywighede in diens, met Amcu wat ongeveer 15 000 van die werknemers verteenwoordig.

Joseph Mathunjwa, president van Amcu, het intussen ʼn dringende mediakonferensie belê oor die geweld waarvoor hy sê ʼn mededingersvakbond verantwoordelik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wurmpie ·

As hul nie gestaak het nie het daai mense nog gelewe. Nou gaan die myn seker vir hul families moet dorg waar die unies eintlik verantwoordlik gehou moet word

Thinus ·

Unies, veral die militante tipes het heeltemal te veel mag en se in hierdie land. Hulle sal die ekonomie op sy kniee dwing net om hul sin te kry, ongeag die nagevolge. A.g.v. gereelde stakings en swak produksie kan die myne nie so voortgaan nie. Afdankings volg en dan kerm hulle oor iets wat direk hulle skuld is en deur hulle veroosaak word. Veral Amcu is ‘n tipiese voorbeel hiervan en as Ramaposa bietjie guts gehad het, moet hy sulke militante en geweldadige unies totaal en al verban en hul hele bestuur opsluit vir aanhitsing tot geweld, moord, beskadiging van eiedom, intimidasie ens. Maar soos ons die ANC ken, sit dit nie in hulle broeke om die moeilike besluite te maak nie, want dit kos stemme. Die ANC word mos voor die land se belange gestel.

Herman Goosen ·

‘n Bus wat die nie stakende unie se werkers werk toe vervoer word aangeval en ‘n werker sterf, maar die stakende unie AMCU se president meen die geweld word deur die mede werkers unie gestig? Ai; die logika van ons “groot leiers” in hierdie land.

Jane ·

AMCU GAAN NIKS OORKOM NIE, die moordenaars gaan niks oorkom nie .. die nie -stakende werkers word nou blameer vir die gemors .. dit is so tipies in SA .. AMCU is untouchable en nie hulle bestuur of lede gaan iets oorkom nie al is hulle MOORDENAARS .. dit is mos die mense wat SA as leiers in die land wil hê. Hoe gewelddadiger, hoe beter …

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.