Twee sterf, vyf beseer in Middelburg-ongelukke

Foto: ER24.

Twee mense is dood en vyf beseer in twee aparte ongelukke wat die afgelope naweek in Middelburg in Mpumalanga plaasgevind het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die eerste ongeluk het laat Sondagaand plaasgevind toe ʼn bakkie en ʼn motor op die N11 net buite Middelburg gebots het.

“Die liggaam van ʼn man was in die bakkie vasgekeer en drie ander pasiënte is op die toneel aangetref,” het Meiring gesê. Hy het gesê meganiese toerusting moes gebruik word om die man se liggaam uit die wrak van die bakkie te bevry.

Paramedici het alles in hul vermoë gedoen om te probeer om die man by te bring, maar hy is op die toneel dood verklaar. Meiring het gesê ʼn tweede man en twee vroue het geringe tot matige beserings opgedoen en is na nabygeleë hospitale geneem vir verdere mediese behandeling.

Foto: ER24.

In nóg ʼn ongeluk vroeg Maandagoggend is ʼn man dood en twee ander beseer toe ʼn motor verskeie kere in Beyers Naudeweg in Middelburg gerol het.

“Een man is binne die motor aangetref terwyl die ander twee op die toneel rondgeloop het,” het Meiring gesê. Hy het gesê die man in die motor het kritieke beserings opgedoen en paramedici het kardiopulmonêre resussitasie op hom toegepas. Hy is egter later op die toneel dood verklaar.

Die twee ander mans is met geringe tot matige beserings na die Middelburg provinsiale hospitaal geneem.

Die polisie ondersoek albei voorvalle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.