Twee studente beseer ná hulle van skeepswrak spring

(Foto: NSRI)

Twee universiteitstudente het Sondag hipotermie (ondernormale liggaamstemperatuur) opgedoen nadat hulle glo van die Bos 400-skeepswrak by Maoribaai naby Houtbaai in die see gespring het.

Volgens die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) was ʼn groep stappers op pad na Sandybaai toe twee mans aan boord die wrak geklim en daarvan afgespring het.

Die oorblywende groeplede het glo onmiddellik besef die twee duikers is in gevaar. Hulle het ʼn NSRI-reddingsboei, wat by die rotse gevestig is, na hulle toe gegooi om aan vas te klou.

ʼn NSRI-lid wat ten tyde van die voorval van diens was en saam met die groep gestap het, het in die see gespring om die mans te red. ʼn Studenteverpleegster en stappers wat in noodhulp opgelei is, het duikers bygestaan terwyl reddingsvaartuie na die toneel ontbied is.

(Foto: NSRI)

Die NSRI het om 12:25 die pasiënte en stappers op rotse digby die wrak aangetref.

“ʼn NSRI-lid het albei pasiënte op die toneel behandel vir onder meer hipotermie en letsels aan hul lywe,” lui die NSRI se verklaring.

Die mans, onderskeidelik 21 en 23 jaar oud, is met reddingsvaartuie na die NSRI Houtbaai-seereddingsbasis geneem waar paramedici hulle ontmoet het. Hulle is deur paramedici ondersoek, maar daarna met ʼn private motor na ʼn plaaslike hospitaal vir verdere behandeling geneem.

Die NSRI het weereens lede van die publiek gemaan om weg te bly van die wrak wat reeds in ʼn gevorderde stadium van agteruitgang is. Die reddingsorganisasie het mense reeds in Februarie vanjaar gewaarsku oor die gevare van dié wrak nadat hy drie keer in een maand reddingsoperasies van stapel moes stuur.

“Geroeste staal dreig om ineen te stort en gedeeltes van die wrak het reeds in die water beland wat die omliggende water en gedeeltes van die wrak onveilig maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Francois ·

Sandybaai….. Het die mans in die koue water gespring omdat hulle wou – of omdat hulle moes?

Elinette ·

As jy dom wil wees … moet jy maar vat wat na jou toe kom!!! Daai wrak is al vir jare lank ‘n groot risiko. As jy nie ‘n ervare duiker is en die nodige permissie het om daar te duik nie ……. BLY WEG!!!

Swerwer ·

Nee wat, vandag se mense het geen ontsag vir die natuur nie. Ai ek is so bly ek het in die “verlede tyd” groot geword waar ons geleer is om ontsag te hê vir die natuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.