Twee susters verdrink saam

Lede van die polisie se soek-en-reddingspan by die watergat waar die twee meisies verdrink het. (Foto: SAPD)

Die polisie in Limpopo is besig met ʼn geregtelike doodsondersoek nadat twee susters Woensdag in ʼn diep watergat naby Mokopane (Potgietersrus) verdrink het.

Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, sê die twee susters, onderskeidelik tien en 17 jaar oud, het na die watergat in die Motebeleng-nedersetting gegaan om water te gaan haal. Omstreeks 14:30 het die polisie ʼn oproep gekry dat twee mense in die water beland het.

“Lede van die polisie se soek-en-reddingspan het hulle na die toneel gehaas en na die slagoffers begin soek,” sê Ngoepe. Die soektog het tot gister 12:00 voortgeduur toe die liggame uiteindelik uit die water gebring kon word.

“Dit is nie duidelik hoe die twee meisies in die water beland het nie, maar dit sal tydens die polisie se ondersoek vasgestel word. Die twee susters is sedertdien geïdentifiseer as die tienjarige Morongwa Seloane en die 17-jarige Mahlako Seloane.”

(Foto: SAPD)

Die oorsaak van die kinders se dood moet nog deur ʼn nadoodse ondersoek bevestig word.

In nog ʼn verdrinking is ʼn 44-jarige man Sondag in die Thohoyandou-gebied in die provinsie dood toe hy by die Nadoni-dam ʼn selfgemaakte boot gebruik het om mee te hengel. Maluta Madamalala het op ʼn manier in die water beland en het verdrink. Sy liggaam is later dieselfde dag deur polisiereddingsbeamptes uit die dam gebring.

Die polisie doen ook ʼn geregtelike doodsondersoek na Madamalala se dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karen ·

Hoekom word daar verdrinking gestipuleer, maar dit moet eers deur ‘n nadoodse doodsondersoek bevestig word, dit maak nie sin?

Mina ·

Karen, dis onnatuurlike sterftes en daar moet bepaal word of dit nie dalk a.g.v. vuilspel was nie. Dit moet ondersoek word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.