Twee swaar gestraf ná moord op polisievrou en haar man

hof-hamer

Argieffoto

Twee mans is in die hooggeregshof in Mbombela in Mpumalanga tot drie keer lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op ’n polisiebeampte, haar man asook een van hul medepligtiges wat die nag van die moorde in die kruisvuur beland het.

Die moorde is in Desember 2018 voor die egpaar se sesjarige kind gepleeg kort nadat die verdagtes twee rooftogte gepleeg het.

Monica Nyuswa, provinsiale woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het gesê Freeman Thulani Maisena (33), Martin Mohlala (23) en ’n medepligtige het op 1 Desember 2018 in sers. Thembisile Ndlovu (41) se huis in Mkhuhlu naby Hazyview ingebreek. Die polisiebeampte, haar man, Khoza, en die egpaar se kind het ten tyde van die inbraak geslaap.

Die verdagtes het op die sleutels van die egpaar se motor aangedring wat in die oprit van die huis gestaan het. ’n Skietery het tussen die egpaar en die verdagtes uitgebreek en Thembisile en die derde medepligtige is in die proses doodgeskiet.

Freeman Thulani Maisena (Foto: Verskaf)

Khoza is gedurende die skietery gewond en na ’n hospitaal gehaas waar hy later aan sy beserings beswyk het.

Volgens Nyuswa het die staatsaanklaer ter strafverswaring aangevoer dat die egpaar vir ’n motor voor hul kind in die huis geskiet is. Die staatsaanklaer het verder daarop gewys dat dit ’n polisiebeampte se lewe was wat die betrokke nag geneem is.

Maisena en Mohlala is drie lewenslange vonnisse vir die moorde opgelê.

Albei is ook skuldig bevind en gevonnis op twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede, die rig van ’n vuurwapen, die afvuur van ’n vuurwapen in die openbaar en twee aanklagte van die besit van ’n onwettige vuurwapen en ammunisie.

Dié aanklagte spruit uit twee rooftogte wat kort voor die moorde gepleeg is.

Martin Mohlala (Foto: Verskaf)

Volgens Nyuswa het Maisena en Mohlala op 30 November 2018 op persone toegeslaan wat besig was om vir ’n troue voor te berei. Die verdagtes het ’n vuurwapen op die slagoffers gerig en op hul selfone, motorsleutels, beursies en skoene aangedring voordat hulle ’n motor gesteel en daarmee op die vlug geslaan het.

Die verdagtes het die volgende dag, die dag van die moorde, op ’n taverne toegeslaan en ’n vuurwapen op klante gerig waarna skote afgevuur is. Die verdagtes het met kontant, lugtyd en sigarette op die vlug geslaan.

Maisena en Mohlala is vir dié oortredings elkeen tot 15 jaar tronkstraf vir elke aanklagte van roof met verswarende omstandighede, vyf jaar vir die aanklagte van die afvuur van ’n vuurwapen, vyf jaar vir die besit van ’n onwettige vuurwapen en drie jaar vir die besit van onwettige ammunisie gevonnis.

Albei is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Maisena en Mohlala het onskuldig gepleit op al die aanklagte teen hulle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wat op dees Aarde ·

Freeman is nie nou meer ‘n “free man” nie…

Anel ·

Die beste is, hulle word onbevoeg verklaar om wapens te besit maar het hulle ooit in die eerste plek lisensies gehad en was hulle ooit bevoeg verklaar om wapens te besit?

Sarel ·

Oeee klink na vreeslike lang vonnis…
Nie in SA nie hier wird dit ” aaneenlopend,” uitvedien wat beteken 2 x lewenslank is net op papier effektief slegs 1 x Lewenslank.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.