Twee swaar gestraf vir plaasmoord

Argieffoto: Reint Dykema

ʼn 18-jarige man is Donderdag in die Pietermaritzburg-hooggeregshof gevonnis vir die moord op Sarel David Theron (49) op ʼn plaas in KwaZulu-Natal in Julie verlede jaar.

Natasha Kara, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê die man is 20 jaar tronkstraf opgelê ná hy skuld beken het op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en huisbraak.

Die beskuldigde, wie se naam nie genoem word nie omdat hy minderjarig was ten tyde van die oortreding, is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir moord, 12 jaar vir roof en vyf jaar vir huisbraak. Hy sal effektief 20 jaar tronkstraf uitdien.

Theron is Julie verlede jaar op sy plaas in Seven Oaks in Greytown, KwaZulu-Natal, vermoor. Theron se liggaam is omstreeks 09:00 by sy huis gevind nadat hy nie by die werk opgedaag het nie. Een van die plaasbestuurders het op sy liggaam afgekom en die polisie is ontbied.

Theron het steekwonde gehad en hy is vermoedelik ook gewurg.

Dit het tydens die verhoor aan die lig gekom die beskuldigde en twee makkers het beplan om Theron aan te val en het hom genader terwyl hy op die stoep van sy huis was. “Hulle het hom gesteek, maar hy kon daarin slaag om in die huis in te vlug en die deur te sluit. Hulle het hom agternagesit en die kombuisdeur afgebreek. Hulle het hom aangerand, ʼn nylontou om sy nek gedraai en hom verwurg,” het Kara gesê.

ʼn Skootrekenaar, selfoon en ander goedere is gesteel voor die boosdoeners van die toneel gevlug het.

Verslae oor Theron se dogter en seun is ingehandig ter verswaring van die vonnis. In dié verslae het hulle vertel van die uitwerking wat hul pa se dood op hul lewe het en gesê hulle rou nog oor hul pa en kan steeds nie aangaan met hul lewe nie.

Die beskuldigde se medebeskuldigde, ook 18 jaar oud, is twee maande gelede gevonnis ná hy skuld beken het. “Hy is tot 22 jaar gevonnis vir moord, 12 jaar vir roof en vyf jaar vir huisbraak. Hy sal effektief 22 jaar tronkstraf uitdien,” het Kara gesê.

Moipone Noko, provinsiale direkteur van openbare vervolging, het gesê dié vonnis is aanduidend van die ernstige benadering wat die NVG volg met sulke misdade, selfs al is die beskuldigdes jonk. “Ek hoop hierdie vervolging help ons in ons stryd teen plaasmoorde.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Ouma ·

Wie ook al skuldig is, moet jy maar in die tronk straf gaan uitdien. Die Here vergewe jou jou sondes, maar ongelukkig nie die reg en die gemeenskap nie.

Ella ·

Te min te laat. n Boer, pa en eggenoot is dood. So ook sy plaas en sy werkers, ast ware. Die moordenaars is jonk en kom gou uit en dan is hulle geharde misdadigers want daar is geen rehabilitasie wat vir hulle sal werk

Snuffels ·

En na hoeveel jaar kom hy uit op parool, 7? Dan het hy n derde van die straf gedoen, het “goeie gedrag”, en dan gaan leef hy verder.

Cherokee ·

pierre, miskien is ‘ife’ in die praktyk korter as 20 jaar.

Jd ·

20 jaar vir moord uit na 12 jaar n swaar straf? Duidelik is daar n verskil in opinie dit is n baie ligte straf.

kobus ·

Dis nonsens, waar is hy swaar gestraf? 20 jaar? Doodskis 2 is 11 en 14 jaar gevonnis omdat hulle n misdadiger se gevoelens seer gemaak het. Die moordenaar/s moet die doodstraf kry. Dit is wat swaar straf sal wees

Sue ·

Ek wou nou net diesele se. Nee waaragtig is die hele konsep van swaar straf ook onder n rasse kleed.

Gerhard ·

Ja, Asseblief, want hulle het doelbewus ‘n lewe geneem.

Cherokee ·

Onthou julle die tyd waarin die koerante na ‘n spesifieke jeugmoordenaar verwys het as ‘die seun’ omdat hy minderjarig was toe hy gemoor het maar sommer op sy verjaarsdag is sy naam skielik uitbasuin. Name beteken in elk geval gewoonlik nie veel nie maar wanneer tronkstrawwe gesamentlik moet uitgedien word en dit as ‘swaar straf’ beskou word, dan is dit veel.

Gerhard ·

Swaar straf. Ag asseblief waar kom jy aan dit. Belaglik. Die vermoorde is vir ewig weg en die moordenaars is oor 7 jaar weer op straat vir hul volgende beplande moord.

Kat ·

Heinz en wat se jy? Laat weet ons asb?Jy is mos n Kenner op hierdie gebied

snoefie ·

heinz wag in die Spur vir sy kfc terwyl hy jacaranda luister.

G ·

Dit lyk of plaasmoorde toegeneem het vanaf die vorige optog gehou is. Dit was ‘n mooi gebaar, maar moet dit nou nie oordoen deur elke week te wil betoog nie. Dit gaan absoluut niks help nie, die regering gaan nie eweskielik begin luister nie. Laat die slimmes almal help om belasting geld iewers anders as die staatskas in te betaal, dan sal baie dinge gou regkom.

What a joke! ·

N wrede opsetlikke moord,n lewe vir ewig weg geneem en die moordenaars kry net 20 jaar! Wow tragies hoe min n lewe werd is….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.