Twee swendel glo R42m uit duisende met piramideskema

Een van die luukse voertuie wat die twee gekoop het. (Foto: NVG)

Die hooggeregshof in Johannesburg het ʼn bewaringsbevel van meer as R18 miljoen aan die batebeslagleggingseenheid toegestaan in die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se ondersoek na die eienaars van ʼn piramideskema wat bykans 230 000 mense glo uit hul geld geswendel het.

Benewens die bevel dat hulle bankrekeninge bevries moet word, het die hof ook beveel dat daar op verskeie luukse motors wat aan Jade Ignatius Matsemela en Sipho Martin Mdlhuli, onderskeidelik die direkteur en voormalige direkteur van Up Money en Uniitco, beslag gelê mag word.

Nog een van die voertuie waarop beslag gelê is. (Foto: NVG)

Dié voertuie, ʼn Audi TT, ʼn Hummer H3 en ʼn Jaguar XKR Coupé is volgens die NVG direk met geld uit die Uniitco-bankrekening gekoop.

Die batebeslagleggingseenheid se ondersoek vorm deel van ʼn ingryping deur die nasionale verbruikerskommissie en die finansiële intelligensiesentrum om die nagenoeg 228 900 verbruikers wat in die multimiljoenrand-skema bedrieg is, se geld terug te probeer terugkry.

Die skema is nie by die Reserwebank geregistreer nie en is nie ʼn geregistreerde stokvel of finansiële diensteverskaffer nie. Hulle het hoofsaaklik sosialemediaplatforms gebruik om lede te werf, het Sipho Ngewema, woordvoerder van die NVG, gesê.

“Nuwe deelnemers moes ʼn eenmalige aansluitingsfooi van R180 betaal en het dan vir ʼn vleispak gekwalifiseer. Dit is vlak een.

Een van die foto’s op Up Money se Facebook-blad. (Foto: Facebook)

“Die oorspronklike beleggers moet dan die vyf mense wat hy of sy gewerf het, help om elk vyf nuwe lede te werf. Dit verseker dat die oorspronklike belegger na vlak twee skuif, waar die voordele ʼn vleispak, kruideniersware en R500 is. Wanneer diegene op vlak een danksy hul nuwe rekrute na vlak twee opskuif, word die oorspronklike belegger na vlak drie opgestoot. Op hierdie vlak kry hulle twee voordele en ʼn bykomende R3 000,” het Ngwema gesê.

Nuwe deelnemers het die basis van die piramide gevorm en dan die geld voorsien vir diegene wat vroeër al gewerf is. Diegene wat vroeg aansluit word deur die nuwe rekrute na hoër vlakke opgestoot. Piramideskemas soos dié word ook “push-push”-skemas genoem.

Ngewema het gesê hoewel die skema tussen Mei en Julie vanjaar meer as R42 miljoen ingevorder het, is meer as R12,5 miljoen geblaas by verskillende kleinhandelaars, asook op die drie peperduur luukse voertuie.

(Foto: Up Money/Facebook)

ʼn Klaer in Oos-Londen het die skema onder die Nasionale Verbruikerskommissie se aandag gebring. Volgens die kommissie se ondersoek het Up Money die Wet op Verbruikersbeskerming oortree deur ʼn piramideskema te bevorder en mense daarvoor te werf.

Adv. Omar Rabaji-Rasethaba, adjunk- nasionale direkteur van openbare vervolgings en hoof van die batebeslagleggingseenheid, het gesê die betrokkenes gaan ook strafregtelik vervolg word. Klagtes kan insluit oortredings van verskeie artikels van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad soos rampokkery, geldwassery, bedrog, diefstal, die besit of gebruik van die opbrengs wat uit onregmatige bedrywighede spruit, asook hulp aan ʼn ander om voordeel te trek uit die opbrengs van onregmatige bedrywighede.

Die NVG gaan vra dat die bates permanent aan die staat verbeurd verklaar word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Misky ·

Die laaste sin…. bates permanent aan staat verbeurd word…… m.a.w. die staat kry al die geld en nie die mense wat dit eintlik ingesit en verloor het nie. Wat is die punt dan? Van een skelm na n ander skelm

Hennie ·

Misky, dis die staat se vorm van ‘n piramiede skema, om net te gryp wat nie aan hulle behoort nie! Wonder waar is al die drank en sigarette waarop reeds beslaggelê is?

HerculesJvV ·

Ek kan nie wag vir die bom om te bars met Crowd1 nie….

Ek het vanoggend lekker gelag vir die klank koerant mense van Pretoira FM: “Nee dit is nie ‘n piramiede skema nie……net ‘n driehoek”

koos10 ·

Want sien, ‘n driehoek het nie diepte nie.
Blits, dit mag so wees, maar ek is oortuig dat daar nog baie trane gaan loop.

Chris ·

Joos, ek is of was nie by Sharemax betrokke nie. Sharemax per se was daar nie probleem mee nie. Die besigheidsmodel was nie ‘n piramide in die werklike sin van die woord nie. Die maatskappy is ten gronde agv teenkanting van die erkende finansieele instellings waarvan die beleggers hul geld onttrek het en in die maatskappy investeer het. Die finansieele wereld in ons land is haai wereld. As jy iemand se kliente basis aanraak gaan jy allerhande maniere uitdink om jou kompetisie uit die weg te ruim. In die geval is die staat se hupmiddels aangewend om die maatskappy ten gronde te laat gaan. Raai wie is die skurke ek noem so paar Reserwe bank, Forensiese ouditeure, likwidateurs, prokureurs ens. Daardie gebou wat Sharemax op die Delmas pad in Wingate Park gebou het is mijoene Rande werd. Die mense/beleggers sou lekker inkomste daaruit verdien het. Die sindikasie van eiendomme is deesdae agv die Sharemax geval taboe.

Cornelius ·

Van die een kriminele gebeurtenis na die ander. Die en ander stories van kriminele optrede gaan nooit ophou nie.

Mauritz ·

Cornelius, Dit gaan nooit ophou nie want daar is ‘n onuitputbare bron van onnoseles en gieriges.

Scalla ·

Kan nie glo daar is nog geldgierige mense wat vir die klas van goed val nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.