Twee tieners verdwyn toe hulle by Blouberg swem

Argieffoto van Bloubergstrand.

ʼn 17-jarige meisie het Saterdag in die see by Bloubergstrand naby Kaapstad verdrink en ʼn 15-jarige seun is steeds soek.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het gesê die NSRI van Melkbosstrand is omstreeks 10:21 na Bloubergstrand ontbied.

ʼn Tienerseun kon daarin slaag om die strand te bereik nadat hy in die see in die moeilikheid beland het. ʼn Gastehuiseienaar het die seun te hulp gesnel en alarm gemaak.

“Die seun het aan die gastehuiseienaar gesê dat sy niggie en nefie steeds in die see is en dat hulle in die moeilikheid is.”

ʼn Seereddingsvaartuig van die NSRI sowel as nog ʼn vaartuig van die Big Bay Surf-lewensreddingsklub is ontplooi. Reddingsduikers van die NSRI sowel as lede van verskeie ander organisasies, wetstoepassingsagentskappe en nood- en reddingsdienste het ook by die soektog aangesluit.

By paramedici se aankoms op die toneel het hulle onmiddellik die tienerseun wat self die strand kon bereik begin behandel.

ʼn Uitgebreide see-, strand- en lugsoektog is van stapel gestuur na die twee vermiste tieners. Volgens Lambinon is die meisie ʼn rukkie later in die water opgespoor. Sy is op die lewensreddingsklub se vaartuig gelaai en na die strand geneem.

Paramedici het haar onmiddellik begin behandel, maar ondanks verskeie pogings om haar by te bring is sy op die toneel dood verklaar.

“Ondanks die uitgebreide soektog is daar steeds geen teken van die vermiste seun nie.”

Polisieduikers gaan voort met die soektog.

Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Francois ·

Die see is vandag rof met strome orals. Die weer verander die heeltyd in Kaapstad.

Karen ·

Die meeste mense wat in die Wes-Kaap verdrink is ongelukkig as gevolg van “rip-tides”. Die publiek behoort gereëld, deur verskeie media, ingelig te word om hoe om te reageer wanneer hul hulself in ‘n “rip-tide” bevind. Aangesien dit ‘n baie smal tog baie sterk stroom is, wat mens bittervinnig vanaf die strand direk na die diep see toe neem, moet mens EERS PARALLEL met die strand swem, om daaruit te kom, en daarna strand toe te swem.
(Kindly excuse any grammatical errors)

Charmaine ·

Kinders wat nie kan swem nie, hoort nie op n strand sonder toesig nie.

Nel ·

Charmaine, die kinders is groot. 15 en 17. Die water was baie rof en mens weet nie wat gebeur het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.