Kyle van Reenen, woordvoerder van Crisis Medical, het gesê die seuns se Toyota-motor het teen ʼn hoë spoed teen die swaarvoertuig vasgejaag wat in die linkerbaan gestaan het nadat dit onklaar geraak het. “Ongelukkig het die seuns uitgebreide beserings opgedoen en paramedici het albei op die toneel dood verklaar,” het Van Reenen gesê. ʼn Derde insittende is met ernstige beserings in ʼn plaaslike hospitaal opgeneem.
Nog ʼn motoris is intussen in ʼn kritieke toestand na ʼn tweede ongeluk op die M4 naby die Virginia-lughawe. “Die bestuurder van die BMW het teen ʼn hoë spoed gery toe hy beheer oor sy voertuig verloor en deur ʼn heining gejaag het. Die 34-jarige man is deur die voorruit geslinger en was vasgekeer onder sy voertuig,” het Van Reenen gesê.Paramedici en brandweerpersoneel het vir meer as ʼn uur gespook om die man te bevry en op die toneel te stabiliseer. Beide ongelukke sal deur die polisie ondersoek word.