Twee toeskouers vang hul aandeel in T20-prysgeld

Dylan Joubert (links) en Andrew Scott (regs) by die Dolphins se kaptein, Khaya Zondo. Foto: Cricket SA

Slegs twee van drie toeskouers wat Sondagmiddag vangskote met een hand gemaak het in die Ram Slam T20-reeks kom in aanmerking vir die R2 miljoen-prysgeld.

Andrew Scott (47) van Randburg het die eerste vangskoot gemaak tydens die kragmeting tussen die Dolphins en die Cape Cobras op SuperSportpark in Centurion. “Ek is onlangs afgelê, so die geld sal baie welkom wees. Ek het krieket gespeel toe ek jonk was, maar dít is ongetwyfeld die vangs van my leeftyd. Ek het ʼn nuwe besigheid begin en sal die geld daarvoor nodig hê.”

Scott was egter nie lank die alleenwenner van die R2 miljoen-prysgeld nie. Dylan Joubert van Pretoria het kort hierna die bal met een hand gevang. In albei gevalle was dit Khaya Zondo, die Dolphins se kaptein, wat die ses geslaan het.

“Ek kon dit nie glo nie. Ek het nog nie eens kans gehad om te dink wat ek met die geld sal doen nie – miskien sal ek dit belê,” het Joubert gesê.

Scott en Joubert was egter nie die enigste twee toeskouers wat ʼn vangskoot met een hand benut het nie. Die derde persoon wat daarin kon slaag, is egter ʼn werknemer van die Gauteng-krieketraad en kom nie in aanmerking vir die prysgeld nie.

Scott en Joubert sal nou duim vashou dat die bal letterlik deur ander toeskouers se vingers glip tot wanneer die eindstryd op 16 Desember tot ʼn einde kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sho! ·

Ek wil net sê. Die ou links is ‘n reus. Wonder hoe lank is hy.

Letterlik ·

Letterlik op die regte tyd, regte oomblik, regte plek. Dan kom daardie bal ook nie aangesluip maar met ‘n merske spoed. Afgesien van voorgaande is dit ook tydsberekening en ‘n oog vir daardie bal. Veels geluk, wat anders kan ek sê? O ja, en natuurlik ook die regte hand!

Uvonka ·

Dit lyk my balle is meer as die Rand werd in SA. ‘N golfbal kan jou 18 miljoen ryker maak en ‘n krieketbal sowat 2 miljoen. Ons se eerder net niks van rugbyballe nie!

james ·

Kan daai Dylan Joubert nie vir die springbokke gaan slot speel nie….ek meen dis duidelik dat hy kan bal vang!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.