Twee transitorooftogte by Parow-sentrum

Die polisie in Kaapstad stel ondersoek in ná ʼn transitorooftog Donderdagoggend by die Parow-winkelsentrum. Fidelity-veiligheidswagte is 00 oorval toe hulle ʼn Capitec-kitsbank wou herlaai.

“Die polisie het Donderdagoggend omstreeks 09:50 reageer op ʼn transitorooftog,” het kol. Brenda Muridili, woordvoerder van die polisie, gesê. “Twee veiligheidswagte wou kontant in die kitsbank deponeer toe twee mans hulle oorval het. Die verdagtes het met ʼn onbekende bedrag kontant van die toneel gevlug.”

Geen skote is gevuur nie en niemand is tydens die voorval beseer nie. Muridili maan enigiemand met inligting om die polisie te kontak.

ʼn Ooggetuie, wat anoniem wil bly, het gesê alles het baie vinnig gebeur. “Ek het parkeer en het net by die sentrum ingestap toe mense vinnig verby my gehardloop het. Ek het gehoor iemand skree dat die mans sopas die Fidelity-wagte beroof het. Hoe gebeur so iets helder oordag?”

Polisiebeamptes het later in die dag hulle weer na die toneel gehaas oor berigte van ʼn tweede moontlike transitorooftog. ʼn Skietery het tussen die polisie en die verdagtes gevolg. Die verdagtes was in ʼn Toyota Corolla langs die Fidelity-voertuig. Die bestuurder van die motor is doodgeskiet.

Die Onafhanklike Polisieondersoek-direktoraat (Opod) ondersoek die tweede voorval, het Ndileka Cola, woordvoerder vir Opod, gesê. “Polisiebeamptes het die motor genader en die bestuurder van die motor het begin wegry. Hy het die beamptes se versoek, om stil te hou, geïgnoreer. Skote is gevuur en die bestuurder is doodgeskiet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.