Twee treindrywers in Pretoria aangeval

Argieffoto

Twee treindrywers is Woensdag aangeval en hul lokomotiewe is met klippe bestook deur ontstoke pendelaars by Koedoespoort-stasie in Pretoria.

Die twee Metrorail-treine van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) is na bewering aangeval as gevolg van vertragings.

Francois Herselman (53), was op pad na Pretoria-Noord toe die veiligheidskerm verwyder en sy lokomotief met klippe by Koedoespoort-stasie bestook is. Die voorruit het gebreek, maar hy is nie beseer nie.

“Pendelaars het gedreig om my en die student [‘n leerling-treindrywer] dood te maak. Dit was verskriklik. Ek het heeltyd gewonder wat gaan volgende gebeur,” het hy gesê. “Pendelaars het die afgelope paar maande baie gewelddadig geword teenoor treinpersoneel. Ek is lief vir my werk, maar ek weet nie wat gaan gebeur as ek aan diens is nie,” het Herselman gesê.

In nog ‘n voorval was ʼn 42-jarige treindrywer, Kgaripane Mogashoa, op pad van Pienaarspoort na Pretoria, maar moes by ʼn rooi sinjaal in Koedoespoort stilhou. “Die pendelaars het groot klippe voor die trein gepak, die veiligheidskerm afgehaal en die lokomotief met klippe bestook,” het sy gesê. “Ek kon die beheerbeampte kontak en hom in kennis stel dat ons gaan sterf as ek nie toegelaat word om met ʼn stukkende voorruit te ry nie. Die glas en klippe het op ons neergereën.”

Mogashoa is beseer deur die gebreekte glasstukke. Sy het gesê ʼn kollega, wat nog opleiding ondergaan, was vreesbevange.

Sy moes ook die klippe uit die pad skuif om verder te ry. Sy het die trein baie versigtig bestuur om die spoor skoon te maak sonder om te ontspoor.

“Ek was baie gespanne, maar ek het geweet ek moet die pendelaars en studente in die trein veilig hou, alhoewel ek gebloei het waar die glasstukke my gesny het. Ek kon tot by Pretoria-stasie kom waar ek die voorval aangemeld het. Ek en die student kry berading.”

Albei treindrywers is lede van die United National Transport Union (Untu).

Steve Harris, algemene sekretaris van Untu, het geëis dat Prasa veiligheidsmaatreëls moet instel, soortgelyk aan dié wat op die omstrede sentrale lyn in die Wes-Kaap ingestel is. “Prasa en die Suid-Afrikaanse Polisiediens het ongelukkig toegelaat dat die spoorlyn só ʼn oorlogsone word dat drastiese en duur maatreëls nou landswyd nodig is om wet en orde te herstel in ons passasierspoorstelsel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Yankee ·

Afgelope 3 jaar het ek alreeds veertien seuns uit Suid-Afrika werk en behuising gegee op my plaas in California. 2018 beplan ek nog 19 jong manne, alreeds besig met hul visas. Wens ek kon alger en elk daar by julle uitkry!!

@ YANKEE ·

Ek haal my hoed af vir jou . BAIE DANKIE. Ek is nou nie ‘n jong man nie, maar ons het al soveel mense in die buiteland gevra om ons net LEIDING te gee tov emigrasie maar niemand wil betrokke raak nie. Ons vra nie vir enigiemand geld nie, ons vra nie iemand om ons te sponsor nie, ons wil net leiding he oor HOE om daar uit te kom, vir watter tipe visum ons moet aansoek doen, maar niemand wil help nie. Ons reis gereeld na ander lande, so ons is nie onbekend met die reel van visums nie, maar emigrasie is baie anders, en jy moet van die begin af vir die regte visum aansoek doen .. ONGELOOFLIK hoe Suid Afrikaners in ander lande nie bereid is om ons wat nog hier is te help nie, weereens ek soek GEEN finansiele ondersteuning nie .. NET raad oor wat jy alles moet voorberei en watter visums die beste is om voor aansoek te doen .. ons is oor 50, so ons het hulp nodig. MAAR terug na die onderwerp DANKIE vir wat jy vir die jong manne doen!

christa ·

geen mens se lewe is meer veilig in SA nie. Waar was die masjieniste se vuurwapens?

Pierre van Zyl ·

Die sports het begin toe julle die ou Spoorweg Polisie ( stasie-blompotte) weg vat.
Die kultuur van die “spore”/treine is nou ons sin, het toe begin.

Gerrit ·

En dit was hoeke ou voete was vlok se idee die verskriklike hoeveelheid vragmotors op die paaie vandag is indirek n rippel effek daarvan.

BANG ·

Kruip weg, hulle is bang .. hulle stasies word dan nou een na die ander aangeval …

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.