Twee uit drie wil entstof kry – studie

‘n Jong man word by die Zwartkops-deurrysentrum teen Covid-19 ingeënt. (Foto: Yusuf Abramjee/Twitter)

Twee uit elke drie Suid-Afrikaners is bereid om teen Covid-19 ingeënt te word indien hulle daarvoor in aanmerking kom – en die grootste rede waarom mense kies om ingeënt te word, is “selfbehoud”.

Volgens ʼn studie van Ask Afrika is jonger mense, tussen 18 en 24 jaar oud, die onwilligste om die entstof te ontvang (37%), terwyl diegene ouer as 60 veel meer geneë is om teen die koronavirus ingeënt te word.

Die bevindings van die studie is Maandagoggend tydens ʼn webinaar van die regering se kommunikasiediens, GCIS, gedeel.

Ask Afrika se navorsing dui daarop dat mans en vroue nou ewe gewillig is om die Covid-19-entstof te ontvang. Statistieke van die nasionale departement van gesondheid wys egter dat 42% van diegene wat tot dusver teen Covid-19 ingeënt is mans is, teenoor 57% vroue.

Volgens Ask Afrika se opname is Indiërmense die gewilligste om ingeënt te word, gevolg deur swart mense (64%) en wit mense (53%). Net 53% van bruin mense het ʼn gewilligheid aangedui om die entstof te ontvang.

Oor die algemeen is 62% van respondente egter bereid om teen Covid-19 ingeënt te word.

Per provinsie is inwoners van Noordwes en Limpopo die gewilligste om ingeënt te word en meer as 70% van diegene in hierdie provinsie het aangedui dat hulle die entstof wil ontvang.

Sowat ʼn vyfde van mense in die Noord-Kaap het aangedui dat hulle neutraal is oor bereidwilligheid om ingeënt te word, die hoogste van alle provinsies.

“Diegene in die Wes-Kaap is beduidend meer geneig om huiwerig teenoor die entstof te wees wanneer dit met enige ander provinsie vergelyk word,” lui die bevindings.

Respondente wat die regering en gesondheidskenners vertrou, het ook die hoogste vlakke van entstofaanvaarding. Dokters en verpleegpersoneel word beskou as die mees betroubare bronne wanneer dit kom by raad oor entstof.

Redes om die entstof te weier

Uit diegene wat aangedui het dat hulle onwillig is om teen Covid-19 ingeënt te word, het 29% ʼn gebrek aan vertroue in die entstof as rede aangevoer. Kommer oor die newe-effekte van die entstof is deur 23% aangevoer as rede waarom hulle huiwerig is. Altesame 7% van mense wil nie ingeënt word nie omdat hulle negatiewe inligting oor die entstof gelees of gehoor het.

Onder diegene wat bereid is om die entstof te ontvang, het 65% van respondente gesê dit is om hulself teen die opdoen van die virus te beskerm. Net 11% het aangedui hulle is bereid om ter wille van die beskerming van ander ingeënt te word, terwyl 10% “om veilig te wees” as rede aangevoer het.

Ander redes is die behoefte aan die terugkeer tot ʼn “normale lewe”, of om die verspreiding van die virus te stuit. Altesame 2% van deelnemers het aangedui dat hulle nie ʼn keuse gehad het nie.

Wat betref die registrasieproses vir die entstof, het pensioenarisse aangedui hulle vind dit moeilik, terwyl diegene tussen 18 en 24 jaar oud weer kommer oor die veiligheid van hul data het. Inwoners van Mpumalanga en die Noord-Kaap het gesukkel om die registrasieproses te verstaan, terwyl diegene in Gauteng en KwaZulu-Natal ongemaklik daarmee was om sekere aspekte van die vereiste inligting te deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Francois Le Cochon ·

Ja Philip, elke ou moet maar self besluit of jy by ‘n rooi verkeerslig gaan stop of nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.