Twee uit stormwaterpyp gered

Twee mans is Dinsdagmiddag uit ʼn stormwaterpyp onder die Weltevredenbrug oor die R300 naby Mitchells Plain in die Wes-Kaap gered. (Foto: Verskaf)

Twee mans is Dinsdagmiddag uit ʼn stormwaterpyp onder die Weltevredenbrug oor die R300 naby Mitchells Plain in die Wes-Kaap gered.

Die mans, wat vir ʼn private kontrakteur werk, was glo met instandhoudingswerk besig toe hulle deur gevaarlike dampe oorval is en ineengestort het.

Brandbestryders van die Stad Kaapstad is omstreeks 16:00 na die toneel ontbied om dié “gevaarlike reddingspoging” te onderneem. ʼn Tegniese reddingspan van Goodwood wat in beperkte ruimtes spesialiseer, asook die polisie en ander nooddienste is vir ondersteuning ontbied.

“Gaslesings het getoon dat suurstofvlakke slegs aanvaarbaar is wanneer vars lug deur die mangat ingepomp word. Daarsonder het die suurstofvlakke vinnig gedaal en dit was kommerwekkend.

“Dit het beteken dat daar elke vyf minute ʼn gaslesing gedoen moes doen, wat die druk op ʼn reeds gespanne situasie verhoog het,” het JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, gesê.

Die reddingspan het ʼn reddingswerker met behulp van ʼn toustelsel in die mangat laat afsak om die mans te red en weer na bo te bring.

Die mans is ná afloop van die reddingstog in ʼn kritieke toestand na die Vincent Pallotti-hospitaal gehaas waar hulle tans behandel word.

“Ek loof almal op die toneel vir hul spanwerk en toewyding wat ʼn geslaagde redding verseker het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

madels ·

Bly die arme twee mans kon gered word, dit moes verskriklik vir hulle gewees het

modiglianigirl ·

Dit gaan nog verskriklik vir hulle wees wanneer hul herstel. Hulle was bewusteloos gedurende dié hele tragiese en voorkombare voorval. Dit blyk ooglopend te wees dat kennis en die toepassing daarvan deesdae in alle industrieë ontbreek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.