Twee UKZN-kampusse sluit

Betogings by die Universiteit van KwaZulu-Natal (10 Oktober 2016) Foto: @WitnessKZN, Twitter

Betogings by die Universiteit van KwaZulu-Natal (10 Oktober 2016) Foto: @WitnessKZN, Twitter

Twee kampusse van die Universiteit van KwaZulu-Natal moes Maandag noodgedwonge hul deure sluit ná ʼn onderonsie tussen die polisie en studente.

Die Westville-kampus en Howard College-kampus in Durban is gesluit.

Studente en universiteitsekuriteit het Maandagoggend gebots en dit het gewelddadig geword toe studente op die veiligheidsbeamptes afgestorm het toe die polisie onttrek het.

Meer as ʼn duisend studente het op ʼn veiligheidsvoertuig op die Westville-kampus afgestorm en ʼn voertuig omgekeer nadat vier veiligheidsbeamptes gevlug en dit verlate agtergelaat het.

Die polisie het teruggekeer en die botsings het in die koshuise net onder die hoofkampus plaasgevind. Studente het glo klippe en ander voorwerpe, waaronder strykplanke, tafels en stoele gegooi en die polisie het reageer met rubberkoeëls, skokgranate en traangas.

Betogings by die Universiteit van KwaZulu-Natal (10 Oktober 2016)  Foto: @WitnessKZN, Twitter

Betogings by die Universiteit van KwaZulu-Natal (10 Oktober 2016) Foto: @WitnessKZN, Twitter

Polisiebeamptes, wat by verre in die minderheid was, het in ʼn stadium begin skree om nog rubberkoeëls, skokgranate en traangas te bekom.

Drie polisiebeamptes is byna stormgeloop deur studente wat ʼn tafel gebruik het as dekking teen rubberkoeëls.

Die grootte van die groepe studente het gewissel en hulle het polisiebeamptes uit verskeie hoeke aangeval. Terwyl die polisie op een bedreiging reageer het, is hulle uit ʼn ander oord – van die kant, van agter of van bo, met klippe, bottels en ander voorwerpe bestook.

Die polisie het in ʼn stadium traangas in ʼn gebou gegooi om die studente uit te lok, maar die administratiewe personeel moes uit die gebou vlug om van die traangas weg te kom.

Betogers het yskaste uitgesleep en dit as beskutting gebruik. ʼn Aantal studente, wat hul gesigte bedek het, het brandblussers gebruik.

Die studente het ook die strykplanke as beskutting gebruik. Diegene wat in die middel van die botsing was, het T-hemde van die South African Students Congress (Sasco) gedra en ander het ANC-T-hemde met pres. Jacob Zuma se gesig daarop, gedra.

Een polisiebeampte is beseer toe ʼn bottel hom teen die arm getref het. Paramedici het hom weggeneem vir verdere behandeling.

“Hou op om ons kêrels te skiet!” het een vrou uit die koshuis na die polisiebeamptes op die grond geskree.

ʼn Brand is in die badkamer van die studentevakbond se gebou gestig. Die brand is byna onmiddellik geblus. Die eThekwini-brandweer was Maandag deurgaans op bystand.

Puin het oor die paaie op die kampus besaai gelê. Minstens vier yskaste van die koshuise het buite die koshuise gelê – onherstelbaar gebreek.

Dit is nog nie dadelik bekend hoeveel persone in hegtenis geneem is nie, maar die polisie het nog beamptes ontplooi en die situasie het teen Maandagmiddag bedaar.

Die universiteit het Maandagmiddag bevestig die akademiese program by Westville-kampus is tot verdere kennisgewing opgeskort. Lesiba Seshoka, woordvoerder van die universiteit, het in ʼn verklaring gesê die bestuur hoop om in die tyd, wat die kampus gesluit is, die oortreders aan te keer wat misdrywe gepleeg het. Hy het later bevestig dat die akademiese program by die universiteit se Howard College-kampus ook opgeskort is tot verdere kennisgewing. Dit is nog nie duidelik wat presies op dié kampus gebeur het nie, maar die polisie het ook skokgranate, traangas en rubberkoeëls gebruik.

Lees alle vorige berigte oor studentebetogings op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johann Marx ·

Dis duidelik dat die studente daar nie wil studeer nie…..sluit die plek toe en gooi die sleutels weg. Ek het tans TWEE studente op kampus….en ek is ‘n hande arbeider. Omdat ons blank is kwalifiseer ons vir GEEN finansiële hulp nie, en na 364 beurs-aansoeke het ons nog geen positiewe terugvoer gekry nie. Studente-lenings is my voorland vir die volgende 10 jaar….en ons eet pap en water…..maar my kinders sal ‘n beter lewe as ek leef, elkeen met ‘n kwalifikasie. Hulle verstaan die opofferings wat gemaak word, help waar hulle kan, en presteer waar en wanneer hulle moet….en nie een van hulle het nog iets afgebrand of iemand met ‘n klip of botteg gegooi nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.