Twee van berugte ‘Boko Haram-groep’ in Mamelodi aangekeer

(Argieffoto: SA Polisie)

ʼn Man en ʼn vrou wat van diefstal, betreding en bedrog aangekla word, het Vrydag in die landdroshof in Mamelodi in Pretoria verskyn as deel van die polisie se voortgesette ondersoek na die “berugte Boko Haram-groep” in dié buurt.

Die groep word daarvan beskuldig dat hulle inwoners en sakelui in die Mamelodi-omgewing teister, sê brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder in Gauteng.

ʼn Multidissiplinêre taakspan van die polisie is op die been gebring ná ʼn pleidooi aan inwoners om verklarings af te lê oor sake wat aangemeld is, en om die polisie te help om die oortreders wat volgens Elias Mawela, Gautengse polisiehoof, die gemeenskap gyselaar hou, aan te keer.

ʼn Operasie is Woensdag van stapel gestuur en die twee verdagtes is aangekeer weens bewerings dat hulle geld onwettig van inwoners van die Inkandla-hostel in Mamelodi eis.

Hulle bly in aanhouding tot hul volgende hofverskyning, sê Peters. Die polisie werk ook nou saam met die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) om ʼn waterdigte saak teen die twee saam te stel.

“Die moontlikheid van nog inhegtenisnemings word nie uitgesluit nie en die polisie verwag dat nog slagoffers na vore gaan kom,” sê Peters.

Lt.genl. Mawela het die taakspan gevra om hul werk voort te sit tot die “sogenaamde Boko Haram iets van die verlede is”.

Hy het ook inwoners geloof wat na vore gekom het met inligting.

“Met hierdie soort samewerking is ons vol vertroue dat daar deurbrake gaan wees in verskeie sake wat verband hou met Boko Haram, sommige wat van 2018 dateer, en dat die verdagtes aangekeer sal word en aan die pen ry.”

Mawela het ook slagoffers wat vantevore hul sake teruggetrek het, of geweier het om verklarings af te lê of aan uitkenningsparades deel te neem, gevra om die sake weer aanhangig te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sarel ·

So hulle is hier….weet Staatsveligheid of is hulle onder
ANC beskerming

Chris dupreez ·

Ons sal al hoe meer sulke gevalle van ekstreme groepe kry, boko haram, isis, ens.want ons grense is mos oop vir enige gemors om te kom nes skrop.

marius ·

Hierdie spul is net ‘n klomp kriminele wat die naam gebruik . Daar is ‘n groep naby Tzaneen wat hulle dieselfde noem . Geen konnotasie met radikale Moslems . Net
‘n spul drek .

Debbie ·

Raak ontslae van hulle nou terwyl daar minbvan hulle is voor dinge hande uit ruk hier soos in Mozambique en ander plekke. Al wat hulle goed kan doen is moor

Tanniepetoors ·

Net ‘n naam om ‘n skrikbewind te voer of werklik polities (sag gestel) gemotiveerd?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.