Twee van Comrades se toptien dalk hul medaljes kwyt

Argieffoto

Argieffoto

Twee van die atlete wat onder die toptien geëindig het by die 2015-Comrades-marathon kan moontlik hul medaljes kwyt wees nadat verbode middels in elk se sisteem gevind is.

Port Elizabeth se Sandile Ngunuza (32) sal voor ʼn onafhanklike tribunaal moet verskyn nadat kontroletoetse vir bymiddels wat by die marathon gedoen is, getoon het dat daar verbode stimulante in sy liggaam was. Ngunuza het negende geëindig by die Comrades op 31 Mei.

Sesdeplekwenner Joseph Mphuthi van Frankfort het die wedloop voltooi ten spyte daarvan dat hy voorlopig geskors is nadat hy positief getoets het vir die anaboliese steroïed nandroloon by die Loskop-ultramarathon in 2014. Die 40-jarige se verhoor voor die tribunaal het op 8 Julie vanjaar plaasgevind en die uitslag is nog nie bekendgemaak nie.

Daar was glo tekens van oxilofrien en metielheksaneamien in Ngunuza se urienmonster wat voor die Comrades-marathon geneem is. Hy het versoek dat ʼn tweede monster getoets word en die uitslag is bevestig.

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids) het gesê dat talle atlete voor die Comrades-marathon getoets is, onder wie al tien mans en vroue wat eerste oor die wenstreep is. Saids het voor die marathon 25 toetse op Suid-Afrikaanse atlete gedoen en 18 toetse op buitelandse mededingers.

Stimulante word gewoonlik deur atlete op die dag van die wedloop gebruik om hul prestasie te verbeter, terwyl steroïede gebruik word om spiere te bou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Geen genade!!! Dit is niks anders as bedrog. Dit is nie asof hulle nie geweet het nie. Siestog!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.