Twee van motordiefstalsindikaat vas

Argieffoto: SAPD/Facebook

Argieffoto: SAPD/Facebook

Twee lede van ʼn motordiefstal- en grenssmokkelsindikaat is vandeesweek altesaam tot 16 jaar tronkstraf in die landdroshof Kempton Park gevonnis.

Bheki Mlangeni (39) is onderskeidelik tien jaar tronkstraf toegedien en Sifiso Tukulu (38) het ses jaar gekry.

Mlangeni en Tukulu was deel van ʼn bende van agt persone wat in 2012 agt motors ter waarde van R1,5 miljoen by ʼn motorverhuringsmaatskappy by ʼn lughawe gesteel het.

Die mans is na bewering deur een van die werknemers by die motorverhuringsmaatskappy gehelp om die motors te steel. Die man, wie se naam nie bekend is nie, is vermis sedert hy in 2012 borgtog ontvang het. Twee ander verdagtes het intussen ook ontsnap ná hulle borgtog toegestaan is. Die polisie het tot dusver drie van die gesteelde motors opgespoor.

Die waarnemende kommissaris van die polisie vir die spesifieke saak, lt.genl. Khomotso Phahlane, het dié verwikkelinge verwelkom. Hy het ook gesê grensposte moet voortaan beter gepolisieer word om te verseker dat sindikate nie so maklik met gesteelde goedere oor die grens kan beweeg nie.

“Ons het, as deel van ons grensbeheermaatreëls, ʼn verhoogde vlak van gereedheid en meer polisielede aan diens om te verseker dat ’n voertuig wat verby ons grensposte kom, al die nodige dokumente het. Ons doen ons bes en probeer om soortgelyke voorvalle te voorkom,” het Phahlane gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Griki ·

Hoe kan die stryd teen misdaad ooit gewen word? Misdadigers kry borgtog en verdwyn. Dan is daar polisiebeamptes et al op die grens wat diewe laat wegkom as hulle omkoopgeld betaal. Ek haal my hoed af vir goeie polisiebeamptes wat nietemin die stryd onverpoos voortsit. Alles van die beste, sterkte en voorspoed vir daardie manne en vroue in blou.

Dee ·

Grensbeheermaatreëls? Met skelms wat in 2112 borgtog ontvang het en steeds weg is? Borgtogbeheermaatreëls is wat ook beter beheer moet word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.