Twee van perlemoenbende gevonnis

Argieffoto

Twee mans, wat deel was van ʼn perlemoenstropersindikaat, is in die Kaapstadse streekhof gevonnis vir ʼn string misdade wat verband hou met die oortreding van die Wet op Mariene en Lewende Hulpbronne asook die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (POCA).

Denver Langehoven (45) en Solomon Sauls (48) was onder ʼn groep van 11 verdagtes wat aanvanklik in hegtenis geneem is vir die smokkel van perlemoen.

Een van dié verdagtes is intussen dood. Nog een van die verdagtes het ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan, drie is opgeskorte vonnisse opgelê, terwyl nog een skuldig bevind en twee jaar gevangenisstraf opgelê is.

Zinzi Hani, woordvoerder van die Valke, sê Langehoven is tot 14 jaar tronkstraf gevonnis vir die oortreding van die POCA-wet, tien jaar vir 385 aanklagte van die oortreding van die Wet op Marine en Lewende Hulpbronne, asook drie jaar vir bedrog. Die vonnisse word gelyklopend uitgedien en hy sal effektief 14 jaar agter tralies wees.

Sauls is tot sewe jaar tronkstraf gevonnis vir die oortreding van die POCA-wet asook twee jaar vir ses aanklagte van die oortreding van die Wet op Marine en Lewende Hulpbronne. Hy dien tans 14 jaar tronkstraf uit vir ʼn ander saak.

Drie jaar van die vonnis word gelyklopend met die gevangenisstraf van 14 jaar wat hy tans uitdien, uitgedien. Hy sal dus vier jaar agter tralies wees.

Dié stropersbende is tydens ʼn gesamentlike operasie van die Valke en die departement van omgewing, visserye en bosbou vasgetrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Casper ·

Die vonisse is nie die die tyd en geld werd wat die ondersoek in beslag geneem het nie.Dit is nie eers die papier werd waarop dit gekryf Is nie.

Maggies ·

Nou waaraan is die een beskuldigde dood? Hoe lank terug is hulle ge- arresteer. Iets klink “fishy”.

Danie ·

Sauls se tronkstraf:
7 jaar plus 2 jaar plus 14 jaar = 23 jaar minus 3 jaar = 4 jaar agter tralies.
Mooi man

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.