Twee van SA in Afghanistan vra hulp – Dirco

Franse soldate staan wag by ‘n weermagvliegtuig op die lughawe in Kaboel terwyl hulle wag om Franse en Afgaanse burgers uit die land te neem. (Foto: STR/AFP)

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) sê hy het versoeke om bystand van twee Suid-Afrikaners in Afghanistan ontvang vir hulp om die land te verlaat.

Afghanistan is die afgelope paar dae in chaos gedompel nadat ʼn weke lange opmars van die Taliban tot die val van die regering gelei het. Duisende mense het reeds na die lughawe in Kaboel gestroom in ʼn poging om die land te verlaat.

Clayson Monyela, woordvoerder van Dirco, sê die regering het direk met die twee Suid-Afrikaners se werkgewers geskakel om hulp te verleen. Hy sê in gevalle waar daar betreklik min Suid-Afrikaners in ʼn spesifieke land is – soos nou die geval in Afghanistan – werk Suid-Afrika saam met ander lande om burgers te repatrieer.

Hy sê die Amerikaners en Britte is tans besig met groot repatriasieprosesse en dat Suid-Afrika daarby inskakel.

Volgens Monyela sou die twee Suid-Afrikaners Afghanistan teen hierdie tyd reeds verlaat het.

Suid-Afrika het nie ʼn ambassade in Afghanistan nie.

Monyela sê die Suid-Afrikaanse regering is in die besonder bekommerd oor die duisende Afghane wat probeer vlug.

“Die Suid-Afrikaanse regering doen ʼn beroep op die heersende gesag om te verseker die oppergesag van die wet word gehandhaaf en dat die menseregte en veiligheid van alle Afghane en buitelandse burgers beskerm word.”

Die regering het ook ʼn beroep op die betrokke partye gedoen om deur dialoog bestendigheid te bewerkstellig.

“Dirco het deur die Suid-Afrikaanse hoëkommisariaat in Islamabad vasgestel dat hy in verbinding is met verskeie Suid-Afrikaners in Afghanistan om hul veiligheid te verseker en die nodige konsulêre hulp te verleen.”

Daar was die afgelope dae kwaai bespiegeling oor die veiligheid van Suid-Afrikaners in Afghanistan, veral dié van vlieëniers en bemanningslede wat daar werk.

ʼn Bron in die plaaslike lugvaartbedryf met diepgaande kennis van die situasie op voetsoolvlak in Afghanistan, het aan Maroela Media gesê die spesifieke maatskappy se bemanningslede is veilig. Daar word in hierdie stadium ook saam met verskeie internasionale organisasies gewerk om hul voortgesette veiligheid te verseker.

Die bron sê Suid-Afrikaners in Afghanistan doen ongelooflike waardevolle werk en dat bespiegeling dat hulle in lewensgevaar verkeer, paniek vererger.

“Die bemannings en vliegtuie is veilig.”

Hy sê mense wat ʼn paar weke gelede van elders in die wêreld na die gebeure in KwaZulu-Natal gekyk het, sou moontlik ook kon dink dat die hele land in chaos gedompel is. Hy vergelyk die situasie met dié in Afghanistan en sê dit is nie oral so chaoties as wat dit voorkom nie.

Pad vorentoe vir Afghanistan

Die Franse ambassadeur in Afghanistan, David Martinon, wag om ‘n vlug uit Kaboel te haal nadat die Taliban beheer van die land oorgeneem het. (Foto: AFP)

Nog ʼn bron wat tot ʼn paar jaar gelede self in Afghanistan gewerk het, het die Taliban se oorname as ʼn “tragedie” bestempel.

“Dit is ʼn absoluut wonderlike land. Jy kan ʼn besemstok enige plek in die grond druk en dit sal groei. Die gewone Afghane is mense nes ons. Baie mense was baie bly toe die Taliban omvergewerp is en hulle ʼn mate van demokrasie en vryheid van beweging ondervind het.

“Daar was baie modernisering.

“Mense het vantevore baie swaar gekry en hulle gaan weer – veral die vrouens en kinders. My hart bloei vir hulle,” het die voormalige kontrakteur gesê.

Die Taliban het na sy bewindsoorname die “Islamitiese Emirate van Afghanistan” verklaar wat volgens sommige bronne herinner aan die tyd voor 2001 – dus voor die VSA die land binnegeval het – toe vroue geen regte, geen toegang tot onderwys en geen stem gehad het nie.

Weens die Taliban se opmars het die Afgaanse weermag en regering binne enkele dae verkrummel en Sondag het Kaboel sonder ʼn geveg geval toe die Taliban Kaboel omsingel en oorgeneem het.

Pres. Ashraf Ghani het na nabygeleë Tadjikistan gevlug en Westerse lande skarrel om soveel as moontlik van hul burgers en diplomate uit die land te vlieg. Aangrypende tonele van mense wat na die lughawe in Kaboel stroom en desperaat aan vliegtuie vasklou in ʼn poging om uit Afghanistan te vlug, het die afgelope paar dae opslae gemaak.

Die Taliban het Dinsdag in ʼn verklaring ʼn amnestie vir alle staatsamptenare afgekondig en ʼn beroep op hulle gedoen om terug te keer werk toe.

“ʼn Algemene amnestie is vir almal verklaar; so jy kan jou gewone lewe met vertroue hervat,” lui die verklaring.

Suhail Shaheen, een van die Taliban se amptelike woordvoerders, het gister benadruk dat vroue niks het om in die toekoms te vrees nie. “Hul reg tot onderrig word ook beskerm,” het hy gesê.

Die Taliban is egter vaag oor hoe hy Afghanistan gaan regeer, benewens ʼn aankondiging dat dit volgens Islamitiese beginsels sal wees.

Amerika verdedig sy besluit

Franse en Afgaanse burgers gaan aan boord van ‘n vlug uit Kaboel. (Foto: STR/AFP)

Die voormalige kontrakteur met wie Maroela Media gepraat het, sê die VSA moes na sy mening soldate in die land agtergelaat het nadat besluit is dat Amerika sou onttrek. “As hulle troepe daar gelos het, sou hierdie waarskynlik nie teen die spoed gebeur het wat dit het nie.”

Amerikaanse pres. Joe Biden het Maandag die VSA se besluit om uit Afghanistan te onttrek verdedig en gesê hy is diep bedroef deur die verloop van gebeure. Hy het onderneem om te praat oor die regte van vroue wat nou terugkeer na ʼn lewe onder Taliban-bewind.

Biden het egter voet by stuk gehou dat die besluit om te onttrek, die regte een was.

“Ek staan bankvas by my besluit. Ná 20 jaar het ek op die harde manier geleer daar is nooit ʼn goeie tyd om Amerikaanse magte te onttrek nie.”

Hy het toegegee dat die Afgaanse regering vinniger ineengestort het as wat hy verwag het en daarop gesinspeel dat die Afghane nie die wil gehad het om teen die Taliban op te staan nie.

“Ons het hulle elke kans gegee om hul eie toekoms te bepaal. Ons kon nie vir hulle die wil gee om vir die toekoms te baklei nie,” het Biden in ʼn regstreekse toespraak gesê.

Enige Suid-Afrikaners in Afghanistan wat hulp benodig, kan die konsulêre afdeling van die departement kontak by [email protected] of die Suid-Afrikaanse hoëkommissariaat in Islamabad by +92 304 371 1869.

Bykomende bron: AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hardekwas ·

En dit vind alles plaas onder die dekmantel van geloof.

E ·

Ek dink om KZN met Kabul te vergelyk, is ni eheeltemal appels met appels nie. 1. Die USA moes nie vir die laast 10-15 jaar in die land teenwoordig wees om hulle oorlog te veg stabiliteit te verseker nie. 2. Hierdie is ‘n geloofsoorlog soos ek dit sien, KZN was bloot kriminaliteit wat hand uit geruk het. 3. KZN ‘n paar mense is dood, maar in Afghanistan is duisende mense ontvoer en dood gemaak, vroue geswing om met Taliban vegters te trou en basies gevange geneem is. So nee dit is GEEN vergelyking nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.