Twee van Unisa geskors oor ‘seksuele teistering’

Unisa (Foto: Gauteng-toerisme)

Twee werknemers van Unisa is geskors nadat bewerings van seksuele teistering by die universiteit se sentrum vir vroeë kinderonderwys (UCECE) aan die lig gekom het.

Gugulethu Ncube, ʼn werknemer van Unisa, het ʼn bestuurder by dié sentrum van seksuele teistering en verkragting beskuldig.

In ʼn onderhoud met SABC News het Ncube vertel hoe een van haar bestuurders, wat in die raad van die sentrum dien, haar glo afgepers het om ʼn seksuele verhouding met hom te hê van Januarie tot 14 Februarie vanjaar.

Volgens Ncube het sy die teistering aangemeld by die voorsitter van die raad, maar sy beweer hy wou nie na haar luister nie en het vir haar gesê om die kwessie self uit te sorteer met die man.

“Omdat ek aanhou praat het daaroor het hulle [die raad en die voorsitter van die raad] vir my geskryf en gesê ek het bedank en moet die perseel verlaat. Ek het die mensehulpbronne-beampte gebel en gevra op watter grond is my dienste beëindig aangesien ek nie self bedank het nie. Sy het bevestig dat sy nie ʼn bedankingsbrief van my af ontvang het nie, maar bloot reageer op opdrag van die voorsitter van die raad,” het Ncube gesê.

Volgens Ncube het sy toe vir die visekanselier geskryf oor die voorval. “Die antwoord wat ek van sy kantoor ontvang het, het my geskok, teleurgesteld en verpletter gelaat – hulle het gesê Unisa het geen jurisdiksie oor die UCECE nie.”

Martin Ramotshela, woordvoerder van Unisa, het gesê die universiteit neem kennis van die voorval. “Ons wil dit duidelik stel dat Unisa geen verdraagsaamheid toon vir enige vorme van teistering in die werkplek nie. Waar klagtes van teistering gelê word, word dit ten volle ondersoek tot dit gefinaliseer is.”

Ramotshela het gesê twee werknemers wat by die bewerings betrek word, is volgens die universiteit se beleid reeds geskors.

“Die saak sal dringend aandag geniet totdat dit uitgestryk en afgehandel is. Ons neem ook kennis dat die saak by die polisie aangemeld is [en] ons onderneem om ten volle met die polisie se ondersoek saam te werk.”

Ramotshela het ʼn beroep gedoen op alle belanghebbendes om die twee prosesse kans te gee om afgehandel te word.

Die universiteit het ander werknemers en studente wat soortgelyke gevalle van teistering beleef, aangemoedig om dié voorvalle deur die regte kanale aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Mooi so ·

Mooi so Gugulethu, moenie dat die ‘menere’ wegkom met hulle vieslikhede. Strawwe is heeltemal te sag, dis die probleem.

Leon ·

Ek neem aan hulle moet darem seker eers skuldig bevind word?

Leon ·

Ek neem aan hulle moet darem seker eers skuldig bevind word?

PJC ·

Hierdie oortreders en almal wat wou toesmeer behoort summier afgedank te word. Geen ordentlike man tree so op nie.

Nie geskok ·

Wens Unisa se ware kleure wil ontbloot word, dis iets om van n rilling te kry..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.