Christoff Becker vra parool

'n Skermskoot uit die YouTube-video

‘n Skermskoot uit die YouTube-video

Christoff Becker, een van die sogenaamde Waterkloof-4, gaan Vrydag ʼn dringende aansoek by die Pretoriase hooggeregshof indien om weer op parool vrygelaat te word.

Becker en Frikkie Du Preez is weer op 16 Februarie in hegtenis geneem nadat beeldmateriaal vrygestel is van waar hulle glo alkohol drink en ʼn selfoon in die Kgosi Mampuru-gevangenis (Pretoria Sentraal) gebruik. Die video is op YouTube gelaai.

Becker, Du Preez, Gert van Schalkwyk en Reinach Tiedt is vroeër in Februarie op parool vrygelaat nadat hulle in 2001 ʼn hawelose man in ʼn park in Pretoria doodgeslaan het.

Becker (27) voer in hofdokumente aan dat hy weens onsinnige redes weer in hegtenis geneem is, vyf dae nadat hy op parool vrygelaat is. Hy sê hy was op 16 Februarie by die huis toe die berig oor sy en Du Preez se vermeende partytjie in die tronk in Rapport verskyn het.

Becker ontken in hofdokumente dat hulle alkohol gedrink het. Hy het ook gesê die foto’s van die bottels Johnnie Walker en J&B-alkohol wat in die video gewys word, is slegs die rekenaar se skermskut.

Hy versoek dat die paroolraad die besluit om sy parool terug te trek, tersyde sal stel. Hy versoek ook om van die Kokstad-gevangenis weer oorgeplaas te word na Pretoria en om weer op dieselfde paroolvoorwaardes as in Februarie vrygelaat te word.

Becker versoek verder dat sy jongste inhegtenisname en aanhouding onwettig verklaar sal word, en dat die departement van korrektiewe dienste vir sy regsonkoste betaal.

Die departement het Woensdag gesê hy gaan die aansoek teenstaan. – SAPA

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.