Deurbraak byna jaar ná moord op kleinhoewe

Jurie en Riekie Steenberg. Foto: Facebook

Twee verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die moord op Riekie Steenberg wat in Junie verlede jaar op ʼn kleinhoewe in Kameeldrift noordoos van Pretoria doodgeskiet is.

Ao. Werner van den Berg, ondersoekbeampte, het aan Maroela Media gesê die eerste verdagte is Dinsdag naby Brits in hegtenis geneem. Die tweede verdagte is vandag in die vroeë oggendure naby Rustenburg vasgetrek. Die verdagtes is onderskeidelik 25 en 46 jaar oud.

“Die verdagtes sal môre in die Cullinan-landdroshof verskyn op aanklagte van moord, poging tot moord en huisroof,” het Van den Berg gesê. Hy het gesê die Kameeldrift SAPD se jurisdiksie het geskuif sedert die voorval plaasgevind het en dit is die rede hoekom die verdagtes in die hof op Cullinan sal verskyn.

Maroela Media het vroeër berig Steenberg is op 28 Junie 2016 op die kleinhoewe in Leeuwfontein doodgeskiet. Haar man, Jurie, het omstreeks 04:30 die oggend opgestaan en uit die kamer gestap toe die drie aanvallers hom met ʼn koevoet oor die kop geslaan het. Hulle was reeds in die huis. ʼn Struweling het ontstaan en Riekie is in die skouer geskiet. Jurie is ook in sy rug geskiet.

Jurie Steenberg tydens ‘n onderhoud met Maroela Media (Februarie 2017). Foto: Adéle Changuion

Die rowers het op die vlug geslaan en Jurie het in sy voertuig gejaag om hulp te gaan soek. Met paramedici se aankoms by die huis was Riekie reeds dood. Jurie het die aanval oorleef.

Jurie het in Februarie vanjaar tydens ʼn onderhoud met Maroela Media vertel hoe sy eerste vrou, Suna (42), ook tydens ʼn aanval op dieselfde kleinhoewe doodgeskiet is. Nog niemand is in verband met daardie aanval in hegtenis geneem nie.

“Mense sê ek moet vir berading gaan sodat ek oor dit kan kom,” het Jurie in die onderhoud gesê. “Kom ek sê jou nou, jy kom nooit oor dit nie. As jy die aand in jou bed klim en jy sien weer voor jou geestesoog wat gebeur het, is daar nie ʼn sielkundige om jou te help nie. Ek lewe elke dag saam met hierdie goed.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

SL ·

Ek is dankbaar iemand is gevang en hoop daar is genoeg getuienis om hulle lank weg te sit. Ek het Riekie geken toe sy nog vir Absa gewerk het en sy was altyd so vriendelik en professioneel. Sterkte vir haar geliefdes wat nou weer die hele trauma moet gaan – ons hoop dis vir die goeie doel om 2 moordenaars uit ons samelewing te verwyder.

Connie ·

Sterkte. Daarom bid ek elke more vir misdaadslagoffers. Dit moet hel wees. Vertrou net die Here sal jou ‘n nuwe gees gee en jou dra deur die swaar tyd.

lw ·

Dankie SAPD vir die arrestasies. Sterkte Jurie met jou dubbele verlies, een troospunt is darem dat die verdagtes aangekeer is.

So dankbaar ·

So dankbaar teenoor haqrdwerkende Polisie beamptes, baie geluk met hierdie prestasie, om hul so te vind is selfde as ‘n Goue medalje by die Olimpiese Spele. Jurie, ek hoop dit gaan al beter met jou, ek ken goeie dames, praat net!!!! Dit is tyd dat jy weer lewe outjie, dit is wat jou goeie pragtige vroue sou wou hê! Ek hoop dit saam met die goeie Polisie werk sit ‘n glimlag op jou gesig.

Sterkte Jurie ·

DANKIE JULLE, ek het nooit gedink hierdie arme man gaan closure kry nie. DANKIE vir julle harde werk. Dankie dat julle die booswigte vasgetrek het, ons hoop net nou die REGSTELSEL doen wat hulle veronderstel is om te doen! Sterkte vir jou Jurie, kan nie dink iemand moet tweekeer ‘n vrou aan die dood afstaan en nogals op so ‘n wrede manier nie.

Willie ·

Welgedaan SAPD, hoop die magistraat/regter doen hul werk behoorlik…

Dirk01 ·

Fantasties top speur werk, ek hoop hulle kry n massiewe bonus en bevordering

KarenG ·

Ek is opreg bly hulle het die 2 misdadigers aangekeer. Ek onthou nog hoe daar by ‘n vorige berig kommentaar gelewer is dat daar moet ‘n slang in die gras wees oor Jurie altwee sy vrouens op dieselfde wyse verloor het.

Dit was nogals vir my ontstellend dat mense altyd die slegste moet dink.

Jurie baie sterkte vir die pad vorentoe, hopenlik geskied geregtigheid!

Frieda ·

Jurie dink jy nie dit is tyd dat jy ander blyplek kry nie!

Nico ·

Frieda, waar in SA is mens regtig veilig? Nie almal kan die koste van koop en verkoop bybring nie. En watter prys gaan hy kry as hy verkoop? Ek sal byvoorbeeld nie daardie hoewe hoop nie, sal jy? So dis nie net vir ander blyplek kry nie….

Tanya ·

Ek is ongelooflik dankbaar. Stertke oom Jurie. Die boek staan nou na ‘n einde toe.

Leslie ·

Geen sielkundige kan help. Die seer bly. Net God alleen waar ons sterkte en troos vandaan kom. Vertrou dat jy elke dag bietjie beter sal voel. En weet Jesus vee die trane af.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.