Twee vas ná 11-jarige ontvoer, losprys geëis is

hof-hamer

Argieffoto

ʼn 42-jarige man en ʼn 27-jarige vrou sal verwagting vandag in die landdroshof in eMalahleni (Witbank) verskyn in verband met die ontvoering van ʼn 11-jarige meisie.

Die twee verdagtes is Maandag in hegtenis geneem in verband met die ontvoering wat op 30 November in die Vosman-omgewing plaasgevind het.

Volgens kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, het die man glo vir die meisie gesê haar ma het hom gestuur om haar te kom haal. “Ander familielede het nie agterdogtig geraak nie aangesien die meisie opgewonde was om die man te sien en hom vertrou het. Die man was glo ook baie bedagsaam en oortuigend.”

Die ma van die meisie het egter die volgende dag ʼn oproep ontvang waartydens ʼn losprys van R250 000 vir die veilige terugkeer van haar kind geëis is. “Die ontvoerders het beweer die meisie is in Nelspruit en het die ma gewaarsku om nie die polisie te kontak nie indien sy haar kind weer lewend wou sien.”

Die 27-jarige man het egter ander familielede in kennis gestel wat op hul beurt die polisie gekontak het. “Die polisie het onmiddellik met ʼn ondersoek begin. Van die familielede het intussen na Nelspruit gery om te kyk of hulle van die inligting wat die ontvoerders gegee het, kon verifieer.”

Volgens Mdhluli het die ontvoerders verneem dat ʼn saak van ontvoering aanhangig gemaak is en dat die polisie ondersoek instel. Hulle het toe glo die kind vrygelaat en die ma gekontak en gesê die kind is steeds in Vosman en nie in Nelspruit soos hulle voorheen beweer het nie.

“Familielede is terug na Vosman waar hulle die meisie ongedeerd gevind het. Die polisie is intussen kennis gestel van die nuwe verwikkelinge waarna die ondersoek verskerp is.”

ʼn Nabye familielid was volgens Mdhluli glo by die ontvoering betrokke. Die moontlikheid bestaan dat die verdagtes op verdere aanklagte tereg kan staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sarel ·

Probeer om selfde te doen as in die Vdbpark saak. Moontlik familielid?

Annelize ·

Het die arme drommels dan niks geleer uit juffrou Liewe Heksie en haar trawante van Vanderbijlpark se poging nie?

Mense is verdomde siek goed. Jy kan nie eers mee jou eie skaduwee vertrou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.