Twee mense is Woensdagaand in hegtenis geneem ná ʼn aanval by ʼn stempunt in Tzaneen, Limpopo.
Pansy Tlakula, die voorsitter van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), het Donderdag gesê ʼn onbekende aantal mense het, net voordat die stempunt sou sluit, hulself as kiesers voorgedoen. “Hulle het die lokaal betree en die polisiebeampte aan diens aangeval,” het Tlakula gesê. “Verkiesingsbeamptes en partyverteenwoordigers is ook aangeval, en verkiesingsmateriaal is beskadig.”
Sy het bevestig dat twee skietvoorvalle in KwaZulu-Natal naby stempunte plaasgevind het. “In KwaDukuza is een persoon doodgeskiet en in KwaMashu is nog ʼn persoon geskiet en gewond. Die polisie ondersoek die voorvalle.”
Volgens Tlakula het die polisie ʼn verlate stembus, met 16 spesiale stembriewe daarin, in Springs in die Oos-Rand opgespoor. “Die polisie ondersoek die voorval en het reeds ʼn verklaring van die betrokke streek se OVK-bestuurder afgeneem,” het sy gesê.
In ʼn ander voorval is daar by ʼn skool ingebreek waar verkiesingsbokse gestoor was. Die stemme in die bokse was reeds getel en aangemeld.
“Dit is geïsoleerde voorvalle wat ons in ʼn baie ernstige lig beskou, en saam met die polisie en partyverteenwoordigers ondersoek,” het Tlakula bygevoeg. – SAPA