Twee vas ná aanval op Mali-hotel

radisson-blu-mali

Die Radisson Blu-hotel in Bamako.

Die Malinese spesmagte het twee mans in hegtenis geneem in verband met verlede week se aanval op ʼn luukse hotel in die hoofstad, Bamako, waarin 19 mense dood is.

Maj. Modibo Naman Traore het in ʼn verklaring gesê hulle sal na verwagting meer inligting oor die motief vir die aanval kry wanneer die verdagtes ondervra word. Die twee mans is in die verklaring geïdentifiseer, maar geen verdere besonderhede oor hul agtergrond of hul potensiële rol in die aanval is gegee nie.

Twee gewapende mans het op 20 November met aanvalsgewere en ploftoestelle die Radisson Blu-hotel bestorm, terwyl veiligheidswagte skofte geruil het. Die mans het op vyf wagte geskiet, waarvan vier dood is. Skote het hierna in die voortportaal en onthaalarea geklap. Malinese troepe, gerugsteun deur Franse en Amerikaanse magte, het vreesbevange gaste en hotelpersoneel help ontruim tydens die beleg wat sewe ure lank geduur het.

Die gewapende mans is op die toneel dood en hul foto’s is Maandag tydens ʼn plaaslike media-uitsending vertoon. Die media het die publiek gevra om na vore te kom met enige inligting oor die verdagtes.

Die Al-Mourabitoun ekstremistegroep het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar.

Drie Sjinese spoorwegamptenare, ses Russe wat vir ʼn vragmaatskappy gewerk het, asook ʼn Amerikaanse hulpwerker en drie hotelpersoneellede is onder meer in die aanval dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.