Twee vas ná aanval op Vrystaatse kleinhoewe

(Foto: pixabay)

Drie mans wat glo gehuur is om met opknappingswerk by ʼn huis op ʼn kleinhoewe by Roodewal buite Bloemfontein te help, het die 68-jarige inwoner glo Vrydagmiddag in sy huis oorrompel en beroof.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder in die Vrystaat, het gesê die verdagtes het die slagoffer tot in die huis, waar die opknappingswerk gedoen word, gelok en daar in ʼn gang aangeval.

“Hulle het sy hande met kabelbinders vasgebind en hom met ʼn mes gedreig,” het Makhele gesê.

Die man is na bewering ure lank aangehou. Teen 19:00 het die slagoffer by sy aanvallers gepleit om hom na ʼn OTM te neem sodat hy daar vir hulle kon geld trek as hulle sy lewe sou spaar.

Die rowers het die man in sy eie bakkie gelaai en was op pad na die kitsbank, toe ʼn kennis van die slagoffer wat verby hulle gery het, hulle laat stilhou het omdat hy met die man wou praat.

“Die verdagtes het paniekerig geword, die bakkie gestop en te voet gevlug. Die Navalsig-polisie is na die toneel ontbied,” het Makhele gesê.

Volgens Makhele het twee van die verdagtes die volgende dag by die Bloemspruit-polisie opgedaag waar hulle ʼn klagte van roof in dieselfde omgewing wou aanmeld. Hulle is na die Navalsig-polisiestasie geneem om die dossier aan te lê. By hul aankoms daar het die polisie hulle herken aan die beskrywing wat vir die vermeende hoewe-aanvallers gegee is en hulle is in hegtenis geneem.

Die mans, onderskeidelik 35 en 38 jaar oud, verskyn Dinsdag in die Bloemfontein-landdroshof. Die derde aanvaller is nog soek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Dit kon soeveel erger gewees het. Se net baie dankie dat die man nie erger beseer is nie. Maar sien ook die twee was 9.0276 percenters. Hulle is blykbaar van daai soort wat by jou huis sal inbreek, lekker uit die vrieskas vol eet, die drank kabinet leeg drink en dan op jou queen bed onder die komberse aan die slaap raak waar die polisie hulle sal wakker skrik.

Niklaas ·

Mens moet in SA huiwerig wees om so ‘n span werkers aan te stel. Dis moeilikheid soek. Daar is geen besigheidsnaam, toesig, verwysings of opsporings kanse nie. Dankbaar dat die slagoffer dit oorleef het.

LiveAndLetLive ·

Ek werk self in my huis en tuin
Ongelukkig is daar nie meer n keuse nie, dit is net eenvoudig nie veilig nie.
Inligting lek so uit en jy laat moordenaars/diewe in jou erf huis toe, dit is die realiteit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.