Lt. Juanita Coetzer, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn bejaarde paartjie, onderskeidelik 73 en 62 jaar oud, se liggame is met talle steekwonde in hul huis in Boksburg aan die Oosrand gevind. Dit is nie duidelik waarmee hulle gesteek is nie. Die man en vrou was glo nie getroud nie, maar het jare lank saam gewoon.
ʼn Skoonseun van een van die bejaardes het bekommerd geraak toe hy hulle nie in die hande kon kry nie en is na hul huis om ondersoek in te stel. Daar het hy die deur oopgebreek en hul liggame in die huis gevind. Die paartjie se silwer Honda Jazz was ook weg.
“Die speurders het vanaf gistermiddag [Woensdag] sonder ophou gewerk en die eerste verdagte is Woensdagaand in Reigerpark vasgetrek. Hy is 23 jaar oud,” het Coetzer gesê. “Die Honda Jazz is ook in die Joe Slovo informele nedersetting gevind nadat dit in ʼn botsing betrokke was.”
Die tweede verdagte is Donderdag omstreeks 14:00 ook in Reigerpark in hegtenis geneem. Hy is 22 jaar oud. “Ons kan nog nie die moontlikheid van verdere arrestasies uitsluit nie. Die polisie is steeds besig met die ondersoek en dit is nou in ʼn baie sensitiewe stadium,” het Coetzer gesê.
Die paartjie se name kan nog nie bekendgemaak word nie aangesien al hul familie nog nie van hul dood in kennis gestel is nie.
- Die Honda Jazz wat teruggevind is. Foto: SAPD
- Die Honda Jazz wat teruggevind is. Foto: SAPD
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
12 Kommentare
Hang die gemors
Sê ek ook. BRING DIE TOU TERUG.
Demokrasie hard aan die werk, Dankie Pinnochio De Klerk en al jou vriende.
Ek sien hulle word al klaar beskerm want ons mag nie sien hoe lyk hulle nie.
Die een kan ek sien sit baie en planne maak, sy broek is al deur gesit agter, hy is seker die baas.