Twee vas ná FNB-sluitkissieroof

FNBTwee verdagtes het gister in die Randburg-landdroshof verskyn in verband met die rooftog wat in die Desember by FNB-takke plaasgevind het waartydens 362 sluitkissies gesteel is.

Die Valke het twee Chubb-veiligheidsbeamptes, albei 40 jaar oud, vasgetrek in verband met die sakeroof wat in Desember by FNB se takke in Randburg, Parktown en Sunnypark in Gauteng plaasgevind het.

Maroela Media het vroeër berig FNB het gesê hy sal kliënte billik vergoed vir byvoorbeeld die vervanging van huweliksertifikate, identiteitsdokumente, geboortesertifikate en paspoorte.

Daar is ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie by een van die verdagtes gevind.

Maredi Bernard Letsoalo en Norman William Moeli wou na bewering hul maatskappy se hulpbronne gebruik om FNB te beroof. Hulle het na bewering deur een van die mure geboor wat verbind was met die kluis waarin al die sluitkissies was. Talle sluitkissies met verskeie waardevolle items daarin is gesteel en beskadig. Die waarde van die sluitkissies se inhoud word op etlike miljoene beraam.

Minstens 250 van die kissies is drie dae ná die rooftog in ʼn oop stuk veld langs die FNB-stadion gevind. Almal was oopgeforseer en leeggemaak.

Die ondersoekspan het onverpoosd gewerk en het Letsoalo in Winterveldt en Moeli in Centurion vasgetrek.

Die saak is tot 13 Februarie uitgestel. Die Valke verwag dat nog inhegtenisnemings sal volg.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jem ·

Ons het regtig baie meer toegeweide lede nodig in Suid Afrika om die korrupsie en bedrog in hierdie land hok te slaan. Dankie Valke vir julle toewyding en harde werk. Dit is al hoe daar n beter lewe vir die armes in hierdie land te skep.

lw ·

Gierigheid het nog nooit n gelukkige einde gehad nie. Bly die skuldiges is vasgetrek.

Piet Pompies ·

Die twee manne het gedink dit is ‘n Chubb idee om die kissies by FNB te steel…. as my geheue my nie in die steek laat was dit ook JHB Chubb werknemers wat by huise ingebreek het terwyl hulle dit moes op pas.

Kan jy glo ·

Natuurlik het ons almal geweet dit is ‘n “inside” Chubb job!! Dit word oor en oor bewys. Hulle dink hul het die perfekte roof. Haha!!! Geen werk, geen geld, geen gesinne, niks dit is wat misdaad vir jou inhou dief!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.