Twee vas ná gru-aanval op renosterbewaarplek

'n Renostertjie. Foto: Thula Thula Rhino Orphanage/Facebook

‘n Renostertjie. Foto: Thula Thula Rhino Orphanage/Facebook

Twee mans is in hegtenis geneem ná ʼn aanval op ʼn renosterbewaarplek in KwaZulu-Natal waartydens ʼn vrou verkrag en twee renostertjies geskiet en onthoring is.

Die voorval het Maandagaand by die Thula Thula-renosterbewaarplek plaasgevind. Volgens die polisie het sewe gewapende mans op die bewaarplek toegesak. Twee renostertjies is met ʼn panga onthoring en geskiet. Personeel en vrywilligers by die sentrum is aangehou en aangerand.

Karen Trendler, hoof by Thula Thula, het in ’n onderhoud met die bekroonde rolprentmaker Bonné de Bod gesê albei renostertjies moes van kant gemaak word weens die beserings wat hulle opgedoen het. “Een van die kalfies, Impi, het na ons toe gekom nadat sy ma gestroop is. Hy het ses dae lank by haar karkas gelê. Toe hy hier aankom het ek nog by myself gedink waardeur hy alles is en dat hy nou veilig is en dat so iets nooit weer sal gebeur nie.”

Twee mans is intussen naby Ermelo in Mpumalanga in hegtenis geneem in verband met die voorval. “Polisiebeamptes het ʼn verdagte bakkie opgemerk en voorgekeer. ʼn Jaggeweer en ammunisie is onder die enjinkap gevind en ʼn polisiesnuffelhond het positief gereageer op tekens van bedreigde en beskermde wild, maar ons kon niks verder in die bakkie vind nie,” het kapt. Carla Prinsloo, woordvoerder van die polisie, gesê.

Volgens Prinsloo behoort die bakkie aan een van die verdagtes. “Hulle is onderskeidelik 33 en 36 jaar oud en is in hegtenis geneem aangesien hulle nie ʼn lisensie vir die jaggeweer en ammunisie het nie.” Die verdagtes is intussen na KwaZulu-Natal geneem om daar aangekla te word rakende die voorval by die renosterbewaarplek. Hulle sal ook later in Mpumalanga aangekla word rakende die vuurwapen en ammunisie.

Die soektog na die ander verdagtes gaan intussen voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
tania

Ek wens ek kan nou presies se wat ek op hierdie oomblik voel toe hierdie berig lees, maar ongelukkig kan ek nie. Al wat ek kan se ek haat julle.Dit is so hartseer. Alles word net vernietig.

johan

Ja presies net so tania

Jane

Dit breek absoluut my hart. Ek kan nie glo hoe wreed die misdadigers in SA geword het nie. AS hulle nie renosterkalfies afmaai en vermink nie, dan verkrag hulle die toesighouers of martel mense met ‘n blaasvlam. Min beskaafde lande se misdaad het so handuit geruk en neem daagliks net toe in plaas van af. Na al die pogings wat aangewend word om renosters te beskerm en geld wat bewillig is om hulle te bewaar, raak die aanvalle net meer en meer gewelddadig. Arme kalfie wat sy ma verloor het en nou ook met sy eie lewe moes boet agv… Lees meer »

Hanna

Wonder maar net of die feit dat daar n vrou op die beplande misdaad perseel was as bloot n bonus beskou kan word vir hierdie kriminele, want nou kan hulle boonop verkrag ook… Siek!

KP

Ek wil weet kan Zuma nie aangekla word, nou of na sy termyn vir al hierdie wreedheid en slagting van diere en bevolking in hierdie land nie???????????? Hierdie land se misdaad is buite beheer en dit deur n man wat hom eerder toespits op selfvereiking en sy pelle.