Twee vas ná kabeldiefstal

Johannesburg.

Twee skrootwerfeienaars is Dinsdag in hegtenis geneem nadat koperkabels, wat in die Johannesburgse sakesentrum gesteel is, na bewering in hul besit gevind is.

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, het gesê ʼn span wat deur die stad se forensiese ondersoekdepartement gelei is en bestaan uit beamptes van die Johannesburgse Metropolisie (JMPD), ingenieurs van City Power en die SAPD, het die verdagtes in hegtenis geneem nadat die kabels Maandagaand gesteel is.

“Die kabeldiefstal het ʼn groot deel van ons stad in donker gehul. Die kabels is uit tonnels gesteel wat onder die strate loop. Die inhegtenisnemings was die gevolg van ʼn wenk van ʼn lid van die publiek aan die stad se forensiese departement,” het Mashaba gesê.

“Tydens die ondersoek is drie dromme vol gesteelde koperkabels in die skrootwerf gevind. City Power-ingenieurs het dit geïdentifiseer as gesteelde kabels. Die eienaars van die skrootwerf kon nie rekenskap van die gesteelde kabels gee nie, wat volgens die werkers vroeër die dag op die werf aangekom het. Daar word beweer dat nog van die koperkabels by nog twee ander skrootwerwe in Robertsville is.”

Mashaba het gesê die skrootwerfeienaars het na bewering probeer om beamptes van die stad en wetstoepassers met R10 000 om te koop.

Hy het die publiek bedank vir die wenk en het gesê die uitbreiding van die kragnetwerk maak dit moeilik om altyd alle installasies te beveilig. Mashaba het inwoners aangemoedig om voorvalle van diefstal en skending van elektrisiteitsinfrastruktuur aan te meld.

“Die misdadigers wat ons koperkabels steel saboteer ons ekonomie en ons stad, laat ondernemings en huise in die donker, kos belastingbetalers ʼn fortuin en beroof ons van hulpbronne vir dienslewering. Na raming word 45% van die kragonderbrekings in die stad deur kabeldiefstal veroorsaak,” het hy gesê.

Mashaba het gesê die stad sal ʼn gespesialiseerde eenheid van die JMPD op die been bring met die uitsluitlike fokus om misdadigers te teiken wat handeldryf in gesteelde koperkabels. “Die werk om hierdie sindikate hok te slaan vereis ʼn professionele benadering van ʼn toegewyde eenheid met die nodige kennis, vaardighede en netwerke om effektief te wees,” het hy gesê.

Hy het gesê in nog ʼn poging om kabeldiefstal te bestry het City Power begin om kopergeleierkabels met aluminiumgeleierkabels te vervang. “Die misdadigers teiken koperkabels om dit aan skrootwerwe te verkoop, maar aluminium het min tot geen straatwaarde nie.”

Mashaba het gesê tegnici van City Power en noodbestuurdienste doen alles in hul vermoë om veilige toegang tot die ondergrondse tonnels te kry waar die kabels gesteel is om te begin met die herstel- en vervangwerk sodat die kragtoevoer so vinnig as moontlik in die geaffekteerde gebiede herstel kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Andre ·

Paar jaar gelede was berig dat 2 sjinese die doodstraf gekry in China omdat hulle kragkabels gesteel. Die regter het gesê dit is ‘n ernstig oortreding oor die ekonomiese impak op die ekonomie en mense. Dalk moet ons leer by China, siende dat ons hulle na doen, en sommer die probleem vir eens oplos.

Griki ·

Ek stem saam. Dink net aan die mense wie se lewens afhang van masjiene in hospitale en tuis. Hoeveel mense het nie al as gevolg van kabeldiefstal gesterf nie?

Lou ·

Ons bespaar niks deur herwinning van koper nie. Die mense wat die koper steel doen miljoene rande se skade. Dit sou beter wees as ons geen koper herwin nie.

Bee ·

nie gedink daars nog n kabel oor om te dief in Jozi of Hillbrow omliggend nie……genade daars nie eers meer geboue oor nie; alles is afgebreek; decay of the inner city!!

snoefie ·

hoe eerlik is skrootwerfeienaars in elk geval? ek het eendag skroot gaan koop. n dame het moeisaam n paar sakke afval staal op n waentjie daar aangebring. sy is n skamele R1,50 per kilogram betaal. ek het van die yster gekoop. teen R8,90 per kilogram.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.