Twee vas ná metrobeampte se skietdood by vulstasie

‘n Foto van die toneel Dinsdagaand. Foto: Verskaf

Twee mans is in hegtenis geneem in verband met die moord op ʼn beampte verbonde aan die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) Dinsdagaand in ʼn rooftog by ʼn vulstasie aan die Oos-Rand.

Kapt. Thivhulawi Tshilate, polisiewoordvoerder, het Donderdag gesê die verdagtes, onderskeidelik 30 en 35 jaar oud, is Woensdag omstreeks 15:50 in die Kwa-Thema-nedersetting buite Springs in hegtenis geneem.

“Misdaadintelligensiegedrewe operasies deur verskeie rolspelers het tot die sukses gelei. Die polisie het tydens die inhegtenisnemings beslag gelê op ongelisensieerde vuurwapens, ammunisie, springstof en gesteelde goedere. Van die vuurwapens waarop beslag gelê is, sluit in ʼn AK47, ʼn 9 mm-pistool en ander ammunisie,” het Tshilate gesê.

Tshilate het gesê die verdagtes word verbind met die rooftog Dinsdag om 22:49 by ʼn vulstasie in Selcourt in Springs.

Maroela Media het vroeër berig agt verdagtes het in ʼn blou Toyota Corolla, waarvan die registrasienommer onbekend is, en ʼn grys Audi A4, met die registrasienommer FPV 579 MP, by die vulstasie brandstof ingegooi.

“Terwyl een van die petroljoggies by die kassier besig was, het die verdagtes vuurwapens op hom gerig en al vier werkers, sowel as ʼn klant met ʼn kind, in ʼn kombuis ingedwing en hulle daar aangehou.”

Die verdagtes het daarna ʼn kluis in die winkel opgeblaas en ʼn onbekende bedrag geld asook sigarette gevat. “Terwyl die rooftog aan die gang was, het twee metropolisiebeamptes onverhoeds by die vulstasie opgedaag. Die verdagtes het op die metropolisiebeamptes losgebrand.”

Die bestuurder van die EMPD-voertuig, ʼn 50-jarige man, is verskeie kere geskiet en is op die toneel dood. Sy dienspistool is ook gesteel. Sy vrouekollega is ongedeerd.

Die polisie het vasgestel dat die aanvallers AK47’s en R5-gewere tydens die rooftog gebruik het.

Die verdagtes moet binnekort in die Springs-landdroshof verskyn op aanklagte van sakeroof, moord, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, die besit van gesteelde eiendom en die besit van springstof.

Die soektog na die res van die verdagtes duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Linda Gouws ·

Wonderlik…goeie werk!!! Dit kan ongelukkig nie die familie se geliefde terug bring nie maar tenminste kan die skuldiges hulle straf uitdien. Sterkte vir die familie, vriende en kollegas. Nou bid ek net dat dié wat ook ‘n JMPD lid se lewe geneem het terwyl hy sy plig uitgevoer het word ook gekry.

JPV ·

Vinnig, vinnig is die skuldiges gearresteer. Bitter min arrestasies volg na plaas aanvalle en moorde.

Pikkewyn ·

Goeie werk, is bly ten minste 2 van hulle is vas getrek. Ek wens net die plaas aanvallers kan ook so vining vas getrek word want soos ons die afgelope week gesien het slaan hulle sommer meer as een keer toe juis omdat hulle nie gevang word nie. Komaan SAPD julle kan dit ook doen met hulle!!

Jurie Vermeulen ·

JPV die vinnige optrede kom, omdat dit een van hul eie is en dit raak hulle. Plaasmoorde is nie hul prioriteit nie.

Annie ·

As dit ‘n boer was wat vermoor is was skuldiges nou nog op vrye voet. Hoop hulle kry nie borg nie.

Tanzie ·

Ek wonder maar net… Het die beampte “bullet proof” onder sy uniform gedra. Baie bly die polisie het hulle so vinnig gevang. Wens net dit kon in ander voorvalle ook so vinnig gebeur het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.