Twee vas ná moord in Aliwal-Noord

Argieffoto

Argieffoto

Twee mans is Vrydag in die vroeë oggendure in hegtenis geneem vir die moord op Sam van der Westhuizen (78) van Aliwal-Noord in die Oos-Kaap.

Kapt. Ursula Roelofse, polisiewoordvoerder, het gesê die twee verdagtes, onderskeidelik 37 en 47 jaar oud, is omstreeks 03:25 by hul onderskeie huise in Dukhatole en Joe Gqabi in hegtenis geneem.

“ʼn Taakspan met speurders van die Aliwal-Noord-polisie, misdaadintelligensie-eenheid en honde-eenheid het sedert Van der Westhuizen se moord alle leidrade opgevolg en ʼn deurbraak is gemaak,” het Roelofse gesê.

ʼn Selfoon, ʼn .22-geweer en verskeie huisware wat uit Van der Westhuizen se huis gesteel is, is in hul besit gevind. Die twee mans sal Maandag in die dorp se landdroshof verskyn op aanklag van moord.

Maroela Media het Dinsdag berig Van der Westhuizen, ʼn wewenaar wat alleen gebly het, se liggaam is Sondagaand op die vloer van sy slaapkamer aangetref. Hy het sigbare wonde aan sy bolyf en kop gehad. Sy liggaam is deur sy bure gevind. Sy bure het bekommerd geraak en gaan ondersoek instel nadat hulle sedert Saterdag geen teken van hom gesien het nie. Hy is Saterdag laas lewend gesien toe hy in die dorp rolbal gespeel het.

Brig. Lawrence Soekoe, die streek se bevelvoerder, het die betrokke beamptes bedank vir hul goeie werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Chris W ·

My dank en gelukwensing aan die ondersoek span wat so gou die skuldiges kon arresteer.Knap gedaan mense!!Ons is trots op julle!Ek hoop ander ondersoek spanne in die land sal jul voorbeeld volg!

Dee ·

Ek hoop dinge verander so dat ander ondersoekspanne geen rede het om hul voorbeeld te volg.

Illa ·

Ek stem 100% saam met jou, Chris. Dis baie hartseer dat die oom sy lewe verloor het, maar daar is darem ‘n ligpuntjie om te weet dat die “vermeende” moordenaars gevang is. Ons kort nou net duisende meer van die knap beamptes wat hierdie ondersoek hanteer het. Baie dankie julle – ek vertrou dit sal die familie ‘n mate van troos bied wanneer hierdie mense boet vir hul dade.

Pieter Willemse ·

Nou gaan hulle in die trunk sit en lekker eet en warm slap op ons belasting betalers se geld, terwyl n onskuldige oom met sy lewe in angs en pyn moes boet.

Illa ·

Pieter, dis verseker so, ja en bitter hartseer en onnodig. Gedane sake het egter ongelukkig nie keer nie en is die feit dat hul vasgetrek is ‘n skrale troos, maar tog beter as die wete dat hul buite rondloop en hul volgende aanval beplan en/of uitvoer. Ek is 100% pro die doodstraf, maar ongelukkig bring wens ons niks in die sak. Ek is tog dankbaar vir die klein genades.

Jef ·

Ja Pieter dit is so en ek hoop dat die moordenaars groot probleme kry met mede gevangene in die tronk en dat hulle mekaar uitmoor, dan kan ons se hulle het hul straf gekry vir hul dade.
Moordenaars bly moordenaars en hulle sal nooit verander nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.