Twee vas ná moord op Kaapse polisielid

(Foto: SA Police Service/Twitter)

Lede van die polisie se teenbende-eenheid (AGU) het Maandagaand twee verdagtes in hegtenis geneem vir die moord op ʼn polisiebeampte, asook vir die poging tot moord op sy kollega in Wesbank Sondagaand.

Die inhegtenisnemings volg nadat lede van die polisie se blitspatrollie op ʼn wenk reageer het dat die verdagtes in die omgewing van Delft is.

Die polisie het terselfdertyd nóg ʼn mens, wat gesoek word in verband met ʼn onverwante dubbele moord, in hegtenis geneem. Nóg twee mense het gevlug.

Die polisie het die twee verdagtes wat met die aanval op die polisielede verbind word later dieselfde aand ná ʼn soektog aangekeer.

Maroela Media het vroeër berig die 52-jarige adjudantoffisier is in die kop getref. Hy is later in ‘n hospitaal dood. Sy 29-jarige kollega, ʼn konstabel, is in die nek getref. Hy is steeds in ʼn ernstige toestand in die hospitaal.

Hulle was besig met ʼn patrollie toe hulle verdagtes buite ʼn kroeg in Wesbank voorgekeer en een van die mense op hulle losgebrand het.

Genl. Khehla Sitole, die nasionale polisiehoof, het die polisie geprys vir hulle vinnige optrede om die vermeende betrokkenes aan te keer.

Sitole sê die belangrikheid van die sogenaamde 72-uur-aktiveringsplan kan nie genoeg beklemtoon word nie. Hy sê die inhegtenisnemings is ʼn bewys van die doeltreffendheid daarvan.

Die twee verdagtes verskyn Woensdag in die Blue Downs-landdroshof op aanklagte van moord en poging tot moord.

Die Valke het intussen die ondersoek oorgeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Linda ·

Baie geluk!!! Hoekom word die 72-uur Aktiveringsplan nie ook met elke plaasmoord gedoen nie???? Hoekom eers na jare word die skuldige DALK eers vasgetrek???? ‘n Polisie man of vrou is nie verhewe bo ‘n boer nie inteendeel ek dink die boer werk drie keer harder as die Polisieman of vrou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.