Twee vas ná moord op Mahikeng-onderwyseres

Argieffoto

Twee verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die moord op ʼn onderwyseres van Mahikeng in Noordwes wie se ontbinde liggaam verlede week gevind is.

Maroela Media het vroeër berig die onderwyseres, Thulisile Ngwenya (56), is verlede Sondag as vermis aangemeld.

“Ngwenya was ʼn onderwyseres aan die Lekoko Primary School buite Mahikeng en is verlede Saterdagoggend vir die laaste keer gesien toe sy na ʼn bank in die dorp gegaan het,” het kapt. Yvonne Maqoboza gesê. “Haar voertuig, ʼn Mazda CX3, is later verlate naby die taxistaanplek op die dorp opgespoor.”

Die polisie het vermoed sy is ontvoer voordat sy vermoor is. ʼn Herder het Woensdag op Ngwenya se liggaam in bosse naby die Lorwaneng-nedersetting afgekom.

“ʼn Toegewyde span speurders in samewerking met die misdaadintelligensie-eenheid het ʼn deurbraak gemaak met die inhegtenisneming van twee verdagtes. Hulle is Maandag in Johannesburg in hegtenis geneem.”

Die polisie het tydens die inhegtenisnemings op Ngwenya se selfoon beslag gelê.

Die verdagtes, onderskeidelik 50 en 51 jaar oud, sal na verwagting Woensdag in die Mmabatho-landdroshof verskyn op aanklagte van moord en ontvoering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.