Twee vas ná moord op Nelspruit-prokureur

Gerrit Stander (38) en sy dogtertjie (Foto: Facebook)

Twee mans is Donderdag vasgetrek vir die moord op Gerrit Stander (38) nadat hy en sy gesin Maandag vroegoggend op ʼn kleinhoewe in die Plaston-omgewing, digby Witrivier in Mpumalanga, aangeval is.

Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, sê die mans, onderskeidelik 26 en 30 jaar oud, is die middag in Kabokweni naby Witrivier vasgetrek.

Ramovha sê die Valke, in samewerking met polisiebeamptes van  Mbombela (Nelspruit) en Witrivier, het inligting ontvang oor ʼn transaksie waar die mans een van die gesteelde selfone wou verkwansel.

“Die ondersoekspan het na die plek waar die transaksie sou plaasvind, gegaan en die mans daar aangekeer,” sê Ramovha.

Die polisie het beslag gelê op een selfoon, ʼn tablet en ʼn naaldwerkmasjien wat Maandag uit die Standers se huis gesteel is. Twee selfone, ʼn televisie en ʼn skootrekenaar is ook tydens die aanval gesteel.

Die mans sal na verwagting volgende week Maandag in die landdroshof in Witrivier verskyn. Intussen duur die ondersoek voort.

Stander is Maandag vroegoggend tydens die aanval drie keer geskiet en het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk. Hy het alles in sy vermoë gedoen om sy vrou, Yolandi, en hul agtjarige dogtertjie te beskerm toe vermoedelik vyf mans hul huis omstreeks 02:00 betree het.

Volgens Stander se broer, MC (41), het die mans die oggend die elektriese heining se draad geknip om op die kleinhoewe te kom. Hulle het die huis se veiligheidshek met ʼn stuk plank, waarvan die punt skerpgemaak is, oopgebuig, en só toegang tot die huis verkry.

Binne die huis het die mans die Standers oorval, waarna ʼn hewige struweling tussen Gerrit en die mans ontstaan het. Stander is erg aangerand. In die proses het hulle ook vyf skote afgevuur waarvan drie skote hom in die long, lewer en arm getref het.

Stander se vrou, Yolandi, se trouring is van haar vinger afgesteel. Sy en hul agtjarige dogtertjie is nie fisiek beseer tydens die voorval nie.

MC het sy broer as ʼn held beskryf wat sy gesin tot die dood toe beskerm het.

Gerrit sou vandag verjaar het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Joos

Dit is n verligting om te hoor dat daar nog lede in die SAPS is wat ernstig is oor hulle roeping

Hennie

Ons word nou gedwing om vuurwapens in ons huise aan te hou!

Trotse Boervrou

Ek is so jammer vir Gerrit se vrou, dogtertjie en familie. Ek bid vir julle vir krag en sterkte.

Gerrit se lewe ‘n selfoon, rekenaar en televisie werd? So pragtige mens. So ook al die vorige moorde? Ek wil SO baie dinge kwytraak maar gaan my weerhou want ek is te wit om te praat. Dit weerhou my egter nie om te dink wat ek wil dink nie en dit wil niemand lees nie. Hierdie kruitvat gaan ontplof.

Persheks Adri

Dis so onnodig dat mens vermoor word vir aardse goed. My hart is BAIE seer oor die plaasmoorde en elke ander blanke persoon wat net vermoor word! Sterkte aan die familie in die moeilike tyd mag God julle dra!

Grant

Dankie aan die Valke Polisie en gemeenskap.