Twee vas ná moord op plaasvoorman

Jasper von Kleist. Foto: Via Facebook

Twee verdagtes is oor die naweek in hegtenis geneem in verband met die aanval op ʼn plaas in die Tom Burke-omgewing in Limpopo waartydens ʼn man doodgeskiet en twee mense gewond is.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, het Dinsdag bevestig die verdagtes is onderskeidelik 37 en 38 jaar oud.

Mojapelo het gesê meer inhegtenisnemings kan verwag word. Hy kon nie meer besonderhede bekend maak nie, aangesien die ondersoek in ʼn sensitiewe stadium is en steeds voortduur.

Volgens die Heritage Protection Group (HPG) volg die deurbraak ná ʼn gesamentlike poging deur HPG, lede van die Tom Burke-polisie, en die Lephalale-polisie se triotaakspan en misdaadintelligensie-eenheid. HPG het gesê albei verdagtes is glo van Mosambiek.

Maroela Media het vroeër berig Jasper von Kleist (57), ʼn plaasvoorman op die Dale-plaas, is Woensdag omstreeks 20:30 tydens die plaasaanval in sy huis doodgeskiet.

“Die oorledene het saam met sy lewensmaat in hul huis gerus toe ʼn onbekende gewapende man op hulle geskiet het,” het Mojapelo verlede week gesê.

Die verdagte het Von Kleist noodlottig gewond, en sy vriendin, Sonja Joubert (55), in haar arm gewond. Von Kleist is deur paramedici op die toneel dood verklaar. Joubert is per ambulans na ʼn nabygeleë hospitaal geneem en is reeds ontslaan.

Die plaaseienaar, Nico Solomon, se 34-jarige seun, Charlie, is ook tydens die aanval gewond. Volgens die polisie is Charlie deur ʼn ander verdagte by die hoofhuis op die plaas geskiet. Charlie het by sy pa gaan eet en was op pad terug na sy huis, nie te ver van sy pa s’n af nie, toe hy deur twee of vier verdagtes buite die huis oorval is.

“Hy is na sy bakkie toe om huis toe te ry. Sy hondjie het in die rigting van die blombedding geblaf en wou nie in die bakkie klim nie. [Charlie] het sy pistool en sy selfoon op die sitplek neergesit om die hond op te tel toe twee verdagtes opspring en hom in die been skiet,” het ʼn bron, wat verkies om anoniem te bly, gesê.

Charlie het terug na sy pa se huis gehardloop en die deur gesluit. Dit is toe dat die verdagtes na Von Kleist se huis is. Die aanvallers het glo slegs met Von Kleist en Joubert se selfone te voet op vlug geslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gestremde ·

Nou hoe nou…behoort Mosambiek burgers ook aan EFF? Daar moet agter die kap van die byl gekom word om te bepaal wat die rede is vir die toename in plaasmoorde. Trots op die SAPD en ander rolspelers oor die misdadigers so gou vasgetrek word.

Attie ·

Snaaks hoe baie plaas moordenaars nou vas getrek word nadat dit bekend gemaak is aan die buite wereld

Bekommerd ·

Iemand sit agter die plaasmoorde en dan word die skuld op die uitlanders gepak. Bly hulle is vasgetrek, maar die polisie moet hul werk deeglik doen en uitvind wie agter die goed sit. Dis tyd dat plaasmoorde prioriteit geniet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.