Twee vas ná moord op polisiebeampte

Argieffoto: SAPD

Twee verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die aanval op twee polisiebeamptes die naweek in Orkney in Noordwes wat tot die dood van een van die beamptes gelei het.

Die twee polisiebeamptes is van die Vrystaat en het Saterdagaand op ʼn klagte in Vierfontein gereageer wat hulle tot in Orkney gelei het waar hulle aangeval is.

Brig. Vishnu Naidoo, polisiewoordvoerder, het gesê die eerste verdagte, ʼn 38-jarige man, is reeds Sondagaand in Soweto in hegtenis geneem. Daar is op ʼn Ford Bantam, ʼn pistool en ammunisie beslag gelê.

Verdere ondersoek het die ondersoekspan na Embalenhle in Secunda gelei waar die tweede verdagte in hegtenis geneem is. Daar is op drie 9 mm-pistole, ammunisie en ses selfone beslag gelê. Een van die pistole is in Junie 2010 in Cleveland gesteel. Die ander twee handwapens se reeksnommers is afgevyl.

Die vuurwapens sal vir ballistiese toetse gestuur word om vas te stel of dit in die uitvoer van enige misdade gebruik is. Die verdagtes sal die week nog in die Orkney-landdroshof verskyn op aanklagte van moord, poging tot moord, roof en die besit van vermoedelik gesteelde goedere.

Sersante Lydia Tladi (45) en Lloyd Poonyane (41) was Saterdagaand in die Vierfontein-omgewing toe hulle ʼn Ford Bantam-bakkie met twee verdagte insittendes gewaar het. Hulle het die bakkie tot in Orkney agtervolg.

Volgens Naidoo het die twee beamptes uit hul polisievoertuig geklim en die bakkie genader nadat dit by ʼn stopstraat stilgehou het. Die insittendes van die bakkie het ook uitgeklim en glo geweier dat die beamptes die bakkie deursoek.

Volgens Naidoo het dit tot ʼn argument gelei. “Die verdagtes het hierna op die twee beamptes losgebrand. Sers. Poonyane is dood nadat hy in die bors geskiet is, terwyl sers. Tladi in die been geskiet en gewond is.”

Die verdagtes het hierna met die beamptes se dienspistole en ammunisie op die vlug geslaan.

Genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, het Sondagoggend na inligting oor die voorval ontvang is, opdrag gegee dat die ondersoekspan die skuldiges spoedig moet vastrek en aan die pen moet laat ry. Hy het die inhegtenisneming verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

twaalfboor ·

Hulle sal hierdie week nog in die hof verskyn???? Net om vrygelaat te word op borg van R1000.

lollapot ·

Dit is hartseer! bitterlik hartseer . . .
‘n Gesin dalk sonder ‘n broodwinner, kinders sonder ‘n pa, ouers sonder hul seun, ‘n vrou sonder haar man! En ja, soos hulle sè, borg is ‘n SMALL DEPOSIT WITH A WRONG ADRESS!
Almal van ons het nie name en adresse nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.