Twee vas ná moord op polisieman

Argieffoto: SAPD

Twee verdagtes is in hegtenis geneem nadat ʼn polisiebeampte Vrydag in Diepsloot, Johannesburg, doodgeskiet is.

Die twee verdagtes is Maandagoggend in ʼn informele nedersetting in die Krugersdorp-omgewing in hegtenis geneem, het kol. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, gesê.

Die verdagtes sal aangekla word van die moord op speurkapt. Oupa Matjie (54) en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen waarop tydens die inhegtenisneming beslag gelê is. Die verdagtes sal binnekort in die Randburg-landdroshof verskyn.

Matjie en ʼn kollega was Vrydag in Diepsloot op die spoor van verdagtes wat gesoek word vir sake van poging tot moord en huisroof. Hulle het vyf verdagte persone opgemerk en bystand ontbied waarna hulle die verdagtes genader het.

“Die verdagtes het die polisiebeamptes gewaar en in verskillende rigtings laat spaander. Een van die verdagtes het op die beamptes losgebrand en kapt. Matjie is noodlottig gewond.”

Lede van die Diepsloot-polisiestasie het in samewerking met gemeenskapslede twee van die verdagtes op die toneel in hegtenis geneem.

Mongameli Mpofu het reeds in die Randburg-landdroshof verskyn op aanklagte van huisroof en poging tot moord. Hy bly in aanhouding terwyl die saak verder ondersoek word. Die ander verdagte is steeds onder polisiebewaking in ʼn hospitaal nadat hy beserings opgedoen het tydens sy inhegtenisneming.

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, het sy medelye met kapt. Matjie se familie betuig. Sitole was vol lof vir gemeenskapslede wat die polisie gehelp het om twee van die vyf verdagtes in hegtenis te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Michael P ·

Elders se ons Ganster Minister van Polisie die moord syfer het gedaal maar as jy M M oop maak is dit net moord en moord en misdaad.Ai Man.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.