Twee vas ná moord op uitsmyter

Joe Louis Kanyona. Foto: Facebook

Joe Louis Kanyona. Foto: Facebook

Twee mans is in hegtenis geneem in verband met die moord op ʼn uitsmyter van ʼn gewilde kuierplek in Kaapstad se bekende Langstraat.

Lt.kol. André Traut, woordvoerder van die polisie, het gesê die twee verdagtes, 20 en 21 jaar oud, is Donderdag op verskillende plekke in Kaapstad in hegtenis geneem in verband met die moord op Joe Kanyona (33).

Kanyona is verlede Saterdag omstreeks 10:30 deur drie onbekende mans met ʼn mes voor Beerhouse doodgesteek. Drie mans het by die kuierplek opgedaag en met Kanyona by die deur gepraat, voordat een van die mans hom glo met ʼn mes in die nek gesteek en hulle daarna gevlug het.

Volgens mediaberigte vrees besigheidseienaars in Langstraat vir hul en hul personeel se lewens indien hulle nie elke maand vir “beskermingsdienste” betaal nie. Traut het intussen gesê die ondersoek gaan voort en dat nog inhegtenisnemings moontlik is. Die verdagtes sal na verwagting Maandag in die Kaapstadse landdroshof verskyn.

Maroela Media het vroeër vandeesweek berig dat personeel by Beerhouse Kanyona as ʼn geliefde kollega en vriend met ʼn vriendelike houding en gewillige glimlag beskryf het. Hy het voorheen in die veiligheidsbedryf gewerk en is die pa van ʼn vyf maande oue babadogtertjie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.