Twee mans van die groep wat na bewering vir Riaan Smit en Luca Hart aangeval het tydens ʼn opname vir ʼn musiekvideo buite Windhoek, is in hegtenis geneem.
Smit, veral bekend as lid van die rock-groep Crimson House, het die nuus op Facebook bevestig. Hy het gesê die polisie reken hulle sal binnekort die ander verdagtes in hegtenis neem. Van die toerusting wat tydens die aanval gesteel is, is ook teruggevind.
Volgens Smit word hy Woensdag geopereer vir die fraktuur aan sy bokaak. Hy sukkel nog om te glimlag weens die besering aangesien hy senuweeskade opgedoen het, maar dit behoort binne die volgende paar maande te herstel.
Maroela Media het vroeër berig Smit, wat tans in die Kaap bly, het ernstige beserings opgedoen nadat hy met ʼn baksteen in die gesig geslaan en met ʼn mes in die arm gesteek is.
Marinette Potgieter, ʼn agent vir Crimson House, het gesê ʼn groep van vyf of ses mans met balaklawas, wat met messe gewapen was, het die twee musikante en drie bemanningslede glo onverwags betrap.
“Dit het veral gelyk asof hulle vir Luca en een van die vroue van die bemanning geteiken het,” sê Potgieter. “Riaan het daarom voor hulle ingespring om die vroue te beskerm. Hulle het hom weggestamp en die vroue weer geteiken, maar hy het weer voor hulle ingespring waarna hy met ʼn baksteen geslaan is en toe na die grond geval het.”
Die groep is van meer as 20 toerustingitems, wat gebruik is om die musiekvideo te skiet, beroof. Onder dié items tel onder meer kameras, selfone en mikrofone. Die verdagtes het nie Smit se kitaar gesteel nie.“Luca se mandolien, wat vir haar van groot sentimentele waarde is, is ook in die voorval gesteel,” sê Potgieter.
Smit is na die hospitaal geneem waar ʼn mediese dokter aanvanklik nié kon sien dat hy ʼn fraktuur aan sy bokaak opgedoen het nie. Daar het ook bloedvate in sy oë gebars.
Potgieter moes intussen noodgedwonge twee van Smit se konserte in Namibië kanselleer. Hy het Sondag teruggekeer na Suid-Afrika om Maandag ʼn chirurg in die Wes-Kaap te spreek.
“Riaan is ons trooper – hy is ʼn regte soldaat. Dis sleg dat ons die konserte moes kanselleer, maar hy sal weer binnekort op die verhoog wees.”
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
13 Kommentare
Polisie vinniger as in SUID AFRIKA ??
Die Namibiese polisie is skerp lees die vorige komentaar van AO van Graan nie so nutteloos soos die klomp in SA nie hulle verdien hulle salarisse en die mense vertrou hulle om Namibië veilig te hou.
Nee Elizma daai POLISIE werk en soek na misdadigers lees asb Lodewyk Van Graan se kommentaar op vorige artikel .
Dankie aan die Nam polisie se goeie werk!
Ja kyk ons polisiemanne speel nie. Hulle soek nog die ander. Hulle dink hulle kan misdaad pleeg hier maar word gou gou vasgevat. Baie trots op NAMPOL