Twee vas ná ongeluk met gekaapte voertuig

Argieffoto: SAPD/Facebook

Twee vermeende kapers sal na verwagting Woensdag in die Pretoria-landdroshof verskyn nadat hulle na bewering ʼn vrou se voertuig naby ʼn hospitaal gekaap het voordat hulle daarmee in ʼn ongeluk betrokke was.

Kapt. Daniel Mavimbela, woordvoerder van die polisie, het gesê drie verdagtes het ʼn vrou Dinsdag naby ʼn hospitaal in Sunnyside oorval en ʼn vuurwapen op haar gerig. Hulle het die sleutel van haar motor afgeneem en met die BMW 320i weggejaag.

Polisiebeamptes en opsporingsbeamptes het vinnig gereageer en die kapers agternagesit. Die verdagtes het uiteindelik in ʼn straat in Mamelodi-Wes voor aankomende verkeer beland voordat hulle beheer oor die voertuig verloor en teen voorwerpe langs die pad gebots het.

“Een van die verdagtes is tydens die ongeluk beseer en sterk tans onder polisiebewaking in ʼn plaaslike hospitaal aan,” het Mavimbela gesê. “Die ander twee verdagtes is agter tralies.” Hy het gesê daar is tydens die inhegtenisneming op ʼn handwapen en ammunisie beslag gelê.

Die verdagtes sal vandag in die hof verskyn op aanklagte van kaping en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. “ʼn Voorlopige ondersoek het daarop gedui dat minstens twee van die verdagtes ook met ander sake verbind kan word,” het Mavimbela gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Skim ·

Wonder ek nou oor die ander aanklagte soos rig van vuurwapen ondere andere?

Cherokee ·

Vrydag het Debbie Stephan vanaf uMhlanga gery na Pinetown en op die Noordelike baan van die N2 was ‘n polisiekar besig om ‘n geskaakte Mercedes te jaag. Die Merc het die polisiekar van die pad probeer druk en die karrre het oorgejaag en in die Suidelike baan beland waar albei Debbie Stephan se motor getref het. Debie, wat ten tye van die ongeluk dmv ‘n handvrye mobiele foon in gesprek was met haar skoondogter, kon haar familie vra om hulp aan te vra en kon min of meer beduie waar dit gebeur het. Sy is kritiek beseer. Van die vyf skakers in die Mercedes het net een dit oorleef en hy is in hegtenis geneem. ……………… Saterdag 12 Augustus se Independent op die voorblad.

Haan ·

“handvrye mobiele foon” sies man die anglisismes darem. Verwys U dalk na n kar-stel?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.