Twee vas ná plaasaanval op Limpopo-egpaar

Megan en Peter-Maurray Cross is in hul plaashuis oorval. Foto: Facebook

Twee verdagtes is Maandag in hegtenis geneem, sowat twee weke ná die plaasaanval op Peter-Murray (48) en Megan Cross (31) in die Matjiesfontein-omgewing in Limpopo op 25 September.

Sakkie Louwrens, direkteur van Heritage Protection Group (HPG), het Dinsdag aan Maroela Media gesê een verdagte is Maandagoggend in Tembisa in hegtenis geneem en die ander verdagte Maandagaand by ʼn ander huis, ook in Tembisa in Gauteng.

HPG en die polisie van Hoopdal asook Tembisa was betrokke by die inhegtenisnemings.

“Die polisie het ʼn wenk van ʼn lid van die publiek ontvang oor wapens by ʼn huis en die polisie het toe toegeslaan,” het Louwrens gesê.

Louwrens het verder gesê daar is beslag gelê op jaggewere, ʼn pistool, juweliersware, kontant en die bakkie wat tydens die pleeg van die misdaad gebruik is.

Volgens Louwrens is vyf verdagtes nog soek. “Daar was vyf aanvallers [wat deel van die aanval was] en twee het by die bakkie gewag.”

Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig twee mense is in hegtenis geneem. ʼn Saak van huisroof word ondersoek.

Maroela Media het vroeër berig die Cross-egpaar het omstreeks 20:00 op die plaas Koedoespan sit en TV kyk toe mans met balaklawas ʼn groot ruit gebreek en die twee aangeval het.

Die aanvallers het eers omstreeks 22:00 op die vlug geslaan met onder meer sewe jaggewere, twee handwapens, vier selfone, kontant, bankkaarte, juweliersware en ʼn silwerkleurige Toyota Hilux-bakkie wat met ʼn jagraam toegerus is. Volgens inligting wat onder plaaslike veiligheidsgroepe versprei is, wil dit voorkom asof die aanvallers gery het in die rigting van Thabazimbi, sowat 70 km suid van die plaas.

Die Cross-egpaar, wat daarin geslaag het om los te kom, se buurman Pieter Lamprecht het as lid van die buurtwagpatrollie in die omgewing gery toe die noodoproep van Peter-Murray omstreeks 22:30 deurkom dat daar ʼn plaasaanval by hulle was.

Die egpaar het hoofsaaklik kop- en gesigbeserings opgedoen.

Louwrens het verder gesê sover sy kennis strek gaan dit fisiek goed met Megan en Peter-Murray, maar dat hul nog baie getraumatiseerd is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ek wonder ·

Een vraag, ek neem aan hulle bly in tembisa en dis in Gauteng, meer as 250km weg van die area waar hulle die sogenaamde inbraak gepleeg het. Dit laat mens baie wonder, wie sit agter al hierdie plaasaanvalle dat mense van Gauteng afkom om te kom geweld pleeg…….Soos dit vir my lyk word als mooi haarfyn vooraf beplan.

Theresa ·

Die sogenaamde “huisroof” wat ondersoek word, is sekerlik net om plaasaanvalle te verdoesel as iets minders. Sies man. So beteken statistiek net mooi niks.
Dit moet mens ook onder die aandag van die buiteland bring. Presies hoe hierdie tipe bedrieglikheid voorkom.

Ek wonder nogsteeds ·

Hierdie is sover net die handlangers wat vasgetrek word, daar is iemand baie hoog op wat die toutjies trek, dalk in n land soos amerika sou so ou vasgetrek kon word maar in ons land……………..

Lolo ·

Tembisa is ‘n tuiste vir duisende kriminele. Dis tyd dat die polisie ‘n groot klopjag daar doen. Even die mense by my werk gaan gladnie soontoe nie hulle sê dis te gevaarlik met te veel kriminele

AJ ·

Hoe het Tembisa kriminele geweet van jaggewere ensovoorts in ‘n plaashuis in Limpopo?

Die informant kén die huis en die mense!

Wie van die plaaswerkers het die inligting verskaf? …. of is AL die werkers medepligtig?

Dean ·

Ek volg al geruime tyd die plaas aanvalle in Suid Afrika en het tot die slotsom gekom dat die mense nie oppertuniste is nie..al of omtrent 99% van aanvalle word wapens geroof..dit wil vir my voorkom of hulle toegang het tot die nasionale wapen register wat eienaars ..adresse..en tipe wapens op perseel bevat…ek voel dit gaan weier as net aanvalle..ek baseer my opmerkings op eie insig en nie statistieke nie..iemand ontvang info erêns en is bereid om groot distansies aftelê om ń spesifieke teiken te slaan..ek sê weer dis nie randomly nie..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.