Twee vas ná polisie aanvallers op plaas inwag

Argieffoto: Reint Dykema

Twee mans wat na bewering van plan was om ʼn plaasaanval uit te voer, het Maandag in die Koppies-landdroshof in die Vrystaat verskyn.

Konst. Peter Kareli, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die twee is Saterdag op die R720 naby Koppies in hegtenis geneem.

Volgens Kareli het die polisie inligting ontvang dat daar ʼn aanval op Johan en Roelien Myburgh se plaas buite Koppies beplan word. “Die polisie het Vrydag die hele nag op die plaas gewag, maar later inligting ontvang dat die aanvallers nie meer kom nie,” het hy gesê. Die polisie is bygestaan deur lede van die plaaslike gemeenskapspolisiëringforum (GPF).

Kareli sê Saterdagoggend omstreeks 07:00 het die polisie inligting ontvang dat die drie aanvallers op die plaas is en beamptes en GPF-lede het vinnig gereageer. “Op pad na die plaas het die groep op drie verdagtes op die R720 afgekom en daar is bevestig dat hulle die verdagtes is wat op die plaas was,” het Kareli gesê.

“Een van die verdagtes kon daarin slaag om te vlug, maar die ander twee is in hegtenis geneem.” Volgens Kareli is daar beslag gelê op ʼn rewolwer, ammunisie en twee swart sakke wat in die verdagtes se besit gevind is. ʼn Skroewedraaier, drie stelle handskoene en ʼn mes was in een van die sakke.

“Die verdagtes is aangekla van onwettige besit van ʼn vuurwapen, onwettige besit van ammunisie en onwettige besit van huisbraaktoerusting.”

Die saak teen die twee verdagtes is tot 2 Julie uitgestel wanneer hulle na verwagting om borgtog sal aansoek doen. Hulle bly in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Alida ·

Borg vir wat? Net om klaar te maak waarmee hulle begin het. Belaglik. Hou hulle in die tronk vir EWIG !!!

Die Stem ·

Die aanklag moet niks minder as Poging tot moord, wees nie. Statistieke bewys dit is die motief.

Andre ·

Is dit n 1ste vir SAP? Ek sou hulle eerder wou inwag. Op die daad betrap. Dan kan hulle langer gevonnis word.

Alida ·

Dit klink of jy wil he die arme mense moet eers deur die trauma gaan voor die SAPD toeslaan om te verseker hulle kry ‘n swaarder straf. Dank die Here die mense is die ellende gespaar.

Straf ·

Alida, lees die berig; die drie verdagtes was alreeds op die plaas toe twee van hul op die R720 in hegtenis geneem is.

Netso ·

Dis regtig ñ ramp dat een kon wegkom (dit was verseker nie net 3 nie)! En gee vir die wat info uitgegee het hulle beloning? Julle was baie gelukkig ons is so dankbaar!

Koos B ·

Fantasties hulle was verseker oppad om te moor.Vat hulle vas sodat dit kan duidelik wees wie agter die hele ding sit.Ek dink ek weet maar mag nie se nie.

Thinus ·

Kyk maar vroeg oggende langs die paaie, hoe groepies of enkelinge langs die pad stap met elkeen ‘n drasak/rugsak byderhand, meestal swart of baie donker klere. Jy kan soms sien dat hul in die gras of op grond gele het – merke op die boude en rug, en verder kyk hulle vir jou as jy verby ry.
Werkers oppad werk toe het dikwels oorpakke of gewone klere aan, maar nie so donker nie, en hulle dra ‘n plastiek sakkie met vermoedelik hul kos in.
As jy dink iemand is verdag, stop so ent van hul af en maak of jy bel terwyl jy na hul kyk, dan sien jy hoe spaander hul.

Johanné ·

Iewers het dit begin deurdring tot die plaaswerkers dat, as hulle werkgewer uitgemoor word, sit hulle sonder werk, kos en blyplek, bravo!!!!!!

Colleen ·

Groot fout. Hulle sal dit net weer probeer. Die saak gaan uitegegooi word want hulle het niks gedoen nie.

Alida ·

Die SAPD moet op elke plaas ‘n fluitjieblaser he wat niemand van weet nie en hom vergoed vir die leidraad. Dit sal soveel mense die pyn, lyding en selfs die dood spaar en werkers is verseker van hulle werk want as die boer vermoor word het hulle nie meer werk nie. Ek dink hierdie plan kan werk maar natuurlik sal CR dit nie goedkeur nie want dan werk sy plan nie.

Hanna ·

Wonder of die vuurwapen getoets gaan word om te kyk of dit by enige ander misdaad betrokke was ?

Hondehalsband idee ·

‘n Halsband wat aan honde gesit kan word wat die eienaar kan verwittig van vergiftiging of besering kan maak dat honde wel as effektiewe en goedkoop manier van beveiliging gebruik kan word. Dit moet nou net ontwikkel word deur iemand wat tegniese en vaardighede het.

Heeltemal niks ·

Daar sal absoluut NIKS met hul gebeur nie…dit is deur en deur al bewys!

André ·

Ek het nog nooit verstaan hoekom kry mense borg nie. Hulle gaan mos net voortgaan waarmee hulle besig was.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.