Twee vas ná rooftog by Centurion-winkelsentrum

Daar was Maandagoggend ‘n gewapende rooftog in die Centurion-winkelsentrum (Foto: Yusuf Abramjee, Twitter)

Twee verdagtes is Maandagaand in hegtenis geneem in verband met ’n gewapende rooftog wat die oggend by ’n juwelierswinkel in die Centurion-winkelsentrum plaasgevind het.

Die juwelierswinkel se 55-jarige eienaar is tydens die rooftog in die maag geskiet en het op die toneel aan sy wonde beswyk. Een van die personeellede van die winkel is ook beseer toe sy die rowers wou keer om te vlug.

Volgens kol. Dimakatso Sello, polisiewoordvoerder, is twee verdagtes, onderskeidelik 23 en 24 jaar oud, Maandagaand in Hillbrow aangekeer. Hulle was in die besit van ʼn motor wat glo gebruik is om ná die rooftog te vlug.

Dit is nadat die polisie Maandagmiddag die publiek om hulp gevra het om die vyf mans wat met die rooftog verbind word op te spoor

“Voorlopige ondersoeke het aan die lig gebring dat een van die verdagtes reeds gesoek word vir ’n ander rooftog,” bevestig Sello.

“Die polisie is steeds op soek na die oorblywende verdagtes.”

Die twee verdagtes sal na verwagting eersdaags in die hof verskyn op aanklag van sakeroof en moord.

Die polisie doen ʼn beroep op enigiemand met meer inligting wat tot die oorblywende rowers se inhegtenisneming kan lei, om die Stop Misdaad-nommer by 08 600 10111 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

SlinkseKoljander ·

Een word reeds gesoek vir ander rooftogte…..hoeveel miljoen meer is daar nie nog van die gemors nie?

Perdeby ·

Moenie worry nie hy is more terug op straat, want hy gaan weer borg kry.

Jan Seerot ·

Ag wat, met die regte benadering en die nodige oorredingsvermoë sal mens seker meer inligting uit die twee skelms kry. Gewone praat en mooipraatjies werk gewoonlik nie. Ook nie koek en tee nie.

Lubbe ·

Hierdie is nie net ‘n diefstal voorval nie. Dit is moord.

Chris dupreez ·

En hulle was seker uit op borgtog voor die moord en rooftog .

Frederik C ·

Hulle sal seker eers met hul 2de verskyning borgtog kry, of hoe ??

JM ·

Hulle behoort nie vir borgtog in aanmerking te kom nie. Uitvaagsels!

Magda G ·

2 gevang wat betrokke was. Vlg week weer op borgtog uit om verder te plunder en moor. Lafaards

Porseleintjie ·

Lekker ou Suid Afrika. Moord en roof hier die nasionale sport.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.