Twee vas ná rooftog by dieseldepot

Tydens die rooftog is ’n 43-jarige werker geskiet en sowat R5,5 miljoen se diesel gesteel (Foto: Verskaf)

Twee verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die gewapende rooftog verlede Saterdag by ’n dieseldepot in Louis Trichardt in Limpopo.

Tydens die rooftog is ’n 43-jarige werker geskiet en sowat R5,5 miljoen se diesel gesteel.

Volgens brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, is die eerste verdagte Vrydag omstreeks 01:00 by ’n dieseldepot in Vanderbijlpark, Gauteng, vasgetrek,

“Met polisiebeamptes se aankoms by die depot het die verdagtes in ’n wit Toyota Hilux-bakkie laat spaander. Een van die verdagtes is tydens ’n hoëspoedjaagtog met die polisie aangekeer. Die ander verdagte het te voet gevlug,” sê Mojapelo.

“Die polisie het op ʼn 9 mm-pistool met ammunisie en die Toyota Hilux beslag gelê.”

Volgens Mojapelo het die ondersoekspan voortgegaan met ondersoeke by die depot en daar is verder beslag gelê op drie vragmotors wat nog vol diesel was, wat vermoedelik by die depot in Louis Trichardt gesteel is.

“Die vierde vragmotor is later die dag (omstreeks 08:30) by die Lebombo-grens onderweg na Mosambiek onderskep en ’n 38-jarige verdagte is in hegtenis geneem.”

Met polisiebeamptes se aankoms by die depot het die verdagtes in ’n wit Toyota Hilux-bakkie laat spaander [Foto: Verskaf]

Maroela Media het vroeër berig die bestuurder van die depot in Louis Trichardt – wat diesel in groot maat verkoop – het die Saterdag omstreeks 19:00 die hek vir ’n vragmotor oopgemaak. Die verdagtes in die vragmotor het voorgegee om diesel te koop.

Die insittendes van die vragmotor het met vuurwapens uit die vragmotor gespring en die hek se beheerknoppie en selfone by die bestuurder gegryp. Die bestuurder is ook van R 6 000 se kontant beroof.

Die verdagtes het die bestuurder en vier werknemers in aparte kamers by die depot ingedwing en die deure gesluit.

Tydens die rooftog is ’n vragmotorbestuurder wat in ’n vragmotor by die perseel gesit het, geskiet en ernstig gewond.

Die verdagtes het daarna met ses vragmotors die depot binnegegaan en dit met sowat R5,5 miljoen se diesel volgemaak voordat hulle die perseel verlaat het.

Die polisie ondersoek aanklagtes van poging tot moord, roekelose en nalatige bestuur en die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie, gewapende roof en die besit van vermoedelik gesteelde goedere.

Die verdagtes sal na verwagting binnekort in verskillende landdroshowe verskyn.

Die polisie versoek die eienaar van die depot in Vanderbijlpark, William Macholo, om by die naaste polisiestasie aan te meld omdat hy vermoedelik met die ondersoeke kan help.

Die polisie is steeds op soek na die oorblywende verdagtes en versoek enigiemand met meer inligting om lt.kol. Richard Boshomane by 079 894 5501 te skakel of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 te kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Waarnemer ·

Eish!!!Diesel prys styg hoeka maand einde met ongeveer R3.55.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.