Twee vas ná ses by winkelsentrum doodgeskiet is

Argieffoto.

Twee mense is in hegtenis geneem in verband met die moord op ses mense in die Vulindlela-winkelsentrum in KwaZulu-Natal oor die naweek.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê daar is aanvanklik net vyf mense dood, maar ʼn sesde slagoffer is Maandag oorlede.

Die verdagtes, onderskeidelik 32 en 39, sal vandeesweek in die Empangeni-landdroshof verskyn.

Maroela Media het vroeër berig vyf mense is dood nadat ʼn groep swaar gewapende mans Vrydagaand by ʼn winkelsentrum in KwaDlangezwa naby Empangeni in KwaZulu-Natal begin skiet het.

ʼn Groep verdagtes het na bewering op veiligheidswagte by die sentrum losgebrand en toe ʼn onbekende bedrag geld gesteel voordat hulle op die vlug geslaan het.

“ʼn Motor wat steeds geluier het, het op die toneel gestaan. Dié motor is vermoedelik deur die verdagtes gebruik,” lui die verklaring.

Twee veiligheidswagte is in die voorval doodgeskiet. ʼn Man wat in sy motor gesit het, is ook raakgeskiet en is later dood.

Die polisie kon nie bevestig wie die ander twee oorledenes is nie, maar wel dat die personeel van die winkel wat beroof is nié beseer is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.