Twee vas ná veiligheidswag se skietdood

Argieffoto

Twee verdagtes is in hegtenis geneem nadat ʼn veiligheidswag Woensdagoggend naby ʼn winkelsentrum in Johannesburg geskiet is en later in die hospitaal aan sy wonde beswyk het.

Kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het omstreeks 07:40 naby Mall of the South plaasgevind. Volgens Masondo het die veiligheidsmaatskappy ʼn oproep ontvang oor ʼn groep mans naby die winkelsentrum wat verdag voorgekom het.

“Twee veiligheidswagte het op die oproep gereageer en drie mans naby die winkelsentrum opgemerk wat by die beskrywing wat gegee is gepas het. Toe hulle die mans genader het, het die verdagtes op hulle losgebrand terwyl hulle na nabygeleë bosse gehardloop het,” het Masondo vertel.

Een van die veiligheidswagte is raakgeskiet en na ʼn hospitaal gehaas. Hy het egter daar aan sy wonde beswyk.

Die polisie is ontbied en die verdagtes is deur polisiebeamptes en ander veiligheidswagte agternagesit. Twee mans, onderskeidelik 37 en 38 jaar oud, is vasgetrek. Die derde verdagte is steeds op vrye voet.

“Die polisie is ook nog op soek na die vuurwapen wat gebruik is om die misdaad uit te voer,” het Masondo gesê.

Dié voorval kom nadat die eienaar van ʼn veiligheidsmaatskappy van Limpopo Dinsdagoggend in ʼn oënskynlike sluipmoord doodgeskiet is. Maroela Media het vroeër berig Ngwako William Mathebula, die eienaar van Thaba Security Services, is omstreeks 07:10 by sy huis in Florapark in Polokwane deur drie onbekende verdagtes doodgeskiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.